Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Sukkelende EOH verkoop filiaal vir R250 m.
Denis vervaardig tegnologie in die tandheelkundebedryf.Foto: Unsplash

Die sukkelende tegnologiemaatskappy EOH is R250 miljoen ryker nadat hy een van sy filiale verkoop het.

In ’n verklaring Vrydag op die JSE se nuusdiens, Sens, sê EOH hy het van al sy aandele in Dental Information Systems (Denis) ontslae geraak.

Denis vervaardig tegnologie in die tandheelkunde en doen sake in Afrika, Europa en die VSA. EOH het dit in 2012 as deel van sy uitbreiding op die gebied van mediese tegnologie bekom.

EOH het nou die onderneming vir R170 miljoen aan AfroCentric Health verkoop.

As deel van die transaksie ontvang EOH ook R80 miljoen in dividende as die alleeneienaar van al Denis se aandele.

Dit bring die totale verkoopprys op R250 miljoen te staan.

Die transaksie is deel van EOH se volgehoue poging om van sy nie-kern-bates ontslae te raak soos wat hy sukkel om weer winsgewend te raak.

Die maatskappy se bedryfsverlies vir die afgelope boekjaar beloop R3,373 miljard en sy totale verlies vir dié tydperk beloop R4,8 miljard.

EOH sê in Vrydag se Sens-verklaring hy het reeds meer as R1 miljard se bates in die huidige kalenderjaar verkoop.

’n Groot gedeelte van die maatskappy se finansiële probleme is te wyte aan grootskaalse bedrog wat oor etlike jare daar gepleeg is.

Stephen van Coller, uitvoerende hoof, het in September erken dat bedrog van meer as R939 miljoen oor etlike jare in die tegnologiefirma gepleeg is.

Sestien werknemers is in verband met die bedrog afgedank en minstens 50 sakeondernemings, waaronder staatsondernemings, word by die bedrogspul betrek.

Ten spyte van EOH se finansiële verknorsing het sy direksie tog ’n totale vergoedingspakket van R19 miljoen vir Van Coller vir die huidige boekjaar goedgekeur.

Dit sluit in ’n bonus van R5 miljoen wat in Oktober vanjaar betaal is.

’n Oorweldigende meerderheid van EOH se aandeelhouers het op die maatskappy se algemene jaarvergadering verlede week teen die beplande vergoeding van sy topbestuur gestem.

AfroCentric Health is ’n filiaal van die genoteerde swart beleggingsbeheerdemaatskappy AfroCentric Investment Corporation.

Dié onderneming besit onder meer Medscheme, ’n administrateur van mediese fondse.

EOH se aandeelprys was Vrydag meer as 2,6% hoër op R12,57.

AfroCentric se aandeelprys het nie geroer nie en is steeds op R3,27.

Meer oor:  Eoh  |  Eoh Holdings  |  Bedrog  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.