Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Survé se Ayo reik uiteindelik hersiene resultate uit
Dr. Iqbal SurvéFoto: Gallo Images

Ayo Technology Solutions het uiteindelik sy geouditeerde state vir die ses maande tot einde Februarie 2019 bekend gemaak.

Ayo, wat deel vorm van dr. Iqbal Survé se Sekunjalo-groep, staan sentraal in die verslag wat die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie in Desember uitgereik het.

Die kommissie het bevind dat dr. Dan Matjila, voormalige uitvoerende hoof van die OBK, nie die regte prosesse gevolg het nie toe die OBK in Desember 2017 altesaam R4,3 miljard in dié maatskappy belê het.

Die kommissie beveel aan dat ondersoek ingestel moet word of enige wette en/of regulasies oortree is deur óf die OBK óf maatskappye wat met Survé verbind kan word.

LEES OOK: OBK-verslag bekend: Skerp kritiek op Ayo-geld

Die JSE het reeds op 10 April 2019 op van die openbare sittings wat die kommissie in Pretoria gehou het, opdrag gegee dat Ayo ’n ouditmening van sy eksterne ouditeure oor die halfjare tot einde Februarie 2018 en einde Februarie 2019 moet kry.

Die resultate wat Woensdag op die JSE se nuusdiens Sens gepubliseer is, wys duidelike verskille tussen die resultate wat oorspronklik op 1 April 2019 vir die halfjaar tot einde Februarie 2019 bekend gemaak is, en dié wat nou bekend gemaak is.

Luidens die geouditeerde resultate het Ayo se inkomste vir dié tydperk met 98% tot R690 miljoen gestyg. Dit is teenoor dieselfde tydperk ’n jaar tevore. Voorheen is gesê dat die inkomste met 93% tot R675 miljoen gestyg het.

Wins voor belasting het luidens die geouditeerde state met 113% tot R166 miljoen gestyg. Oorspronklik is berig dat die wins voor belasting met 226% tot R267 miljoen gestyg het.

Wesensverdienste per aandeel het luidens die jongste state met 90% tot 28,56c gestyg, en nié met 220% tot 56,65c nie.

Ayo se totale bates het met 15% tot R5,2 miljard gegroei en nié met 16% tot dieselfde bedrag nie.

Ayo sê in die verklaring dat die verskille is weens “verkeerde oordele en rekenkundige foute wat gemaak is”.

’n Verduideliking van die foute wat gemaak is, word op bladsy 67 van die resultate uiteengesit.

Baie daarvan het te make met die koste van die verkope wat voorheen as laer bedrae gerapporteer is, as wat dit was.

Ayo sê in die verklaring hy het nou aan die JSE se versoek voldoen, en dat dié resultate van nou af gebruik moet word.

Ayo begin Donderdag teen R2,48 per aandeel op die JSE verhandel. Die OBK het destyds R43 per aandeel betaal toe hy in dié maatskappy belê het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.