Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Syfers wys ernstige invloed van Covid-19 op Media24

Media24 se syfers vir die ses maande tot einde September toon ’n stewige styging in lees-, kyk- en gebruiksyfers op al die groep se digitale platforms, van News24 en Netwerk24 tot VIA en Superbalist.

tydskrifte pagesuite
Netwerk24 publiseer ook die aanlyn weergawes van Afrikaanse koerante en tydskrifte in die Media24-stal.

Die groei in Media24 se digitale publikasies en e-handel kon egter te midde van die Covid-19-krisis nie die agteruitgang van die groep se “reeds brose drukmediabedrywighede” heeltemal teenwerk nie, skryf prof. Rachel Jafta, voorsitter van die direksie, en Ishmet Davidson, uitvoerende hoof, in hul opsomming van die groep se halfjaarsyfers.

Die halfjaar het in April begin toe die Covid-19-pandemie sy kloue in Suid-Afrika begin slaan het. Die eerste Covid-19-geval is op 5 Maart in Suid-Afrika bevestig, ’n ramptoestand het op 15 Maart in werking getree en die inperking op 27 Maart.

Vir die ses maande tot einde September het die mediagroep se inkomste met 19% tot R1,9 miljard geval, deels omdat koerant- en tydskrifverkope tydens die strenger inperkingsfase gedaal het. Die meeste publikasies, soos koerante, is deurgaans uitgegee omdat media tot noodsaaklike dienste verklaar is, maar daar was aanvanklik perke op die verkope en verspreiding van ander.

Die groep het in dieselfde ses maande van 2019 ’n kernwesensverdienste van R63 miljoen gemaak, maar dit het vanjaar tot ’n verlies van R315 miljoen gedraai. Kernwesensverdienste is ’n maatstaf van wins wat eenmalige items uitsny.

Die groep se bedryfsverlies het met R400 miljoen opgeskiet – van R53 miljoen in 2019 tot R453 miljoen vanjaar.

Die groep se onderskeie afdelings het as volg gevaar:

  • Media: Dit sluit digitale en drukmedia, verspreiding (On the Dot) en televisie (VIA) in. Die impak van die pandemie, tesame met die jare lange daling in koerant- en tydskrifverkope en advertensie-inkomste, het die inkomste uit media met 30% laat val en die afdeling se verlies was R198 miljoen.
  • Boeke: Die afdeling se inkomste het met 38% geval en dit het ’n verlies van R46 miljoen gely, grootliks weens perke op boekverkope tydens die inperking.
  • E-handel: Die afdeling sluit Superbalist, kontraklogistiek (die verspreiding van ander kleinhandelaars se aanlyn inkopies) en Careers24 in. Die inkomste het met 40% gestyg, veral danksy ’n stewige styging in aanlyn inkopies. Die afdeling ly steeds ’n verlies van R76 miljoen, maar dis minder as 2019 se R90 miljoen.

Media24 het reeds vroeg in die pandemie stappe gedoen om verliese te temper. Dit sluit in dat geen salarisverhogings vir 2020 toegestaan is nie, vakatures gevries is en alle diskresionêre besteding besnoei is.

Media24 het sy werknemers reeds meer as ’n week voordat vlak 5 van die inperking op 27 Maart begin het, van die huis af laat werk.

Digitale publikasies het regdeur die inperkingstydperk voortgegaan met dekking byna ononderbroke elke dag. Verkeer op al Media24 se webtuistes het gestyg – die gemiddelde daaglikse unieke gebruikers het met 21% tot 2,5 miljoen gestyg.

Die groep se belangrikste nuuswebtuistes, News24 en Netwerk24, se gekombineerde daaglikse unieke gebruikers het met 49% tot 1,8 miljoen gestyg.

Netwerk24 se intekenare het met 34% tot 71 500 gestyg. News24 se intekendiens is op 8 Augustus bekend gestel en het teen einde September byna 20 000 intekenare gehad.

Die e-handelafdeling se volume transaksies het met 129% gestyg.

Hoewel die boekdrukafdeling erg geraak is deur die streng fases van die inperkin, kon NB Uitgewers en Jonathan Ball Publishers hul markaandeel behou. Via Afrika, wat handboeke publiseer, is geknou deur vertragings in bestellings landwyd. Icon Books, ’n Britse uitgewer wat Media24 in April gekoop het, beleef sterk verkope.

Media24 sê sy televisie-afdeling is besig om sy stempel af te druk. VIA, wat grootliks leefstylprogramme aanbied, het tydens die strengste inperkingsfase ’n skerp styging in kykers beleef. Die groep se eie produksie-eenheid, Pop!, het nou al 15 produksies opgelewer. Die groep het ook ’n kontrak met MultiChoice gesluit vir ’n nuwe leefstylkanaal, Honey, wat in Februarie 2021 bekend gestel gaan word.

Planne met drukmedia

Die aanvanklike stappe om koste te beperk, was nie genoeg nie.

Media24 sê gevestigde publikasie- en verspreidingsmodelle is ontwrig deur die Covid-19-regulasies en -beperkinge, “dermate dat geen koerantuitgewer in die land data kon indien vir verifikasie deur die Audit Bureau of Circulations nie”.

Media24 se mededinger Caxton het verskeie tydskrifte gesluit, insluitend dekade oue titels soos rooi rose, Vrouekeur en Woman & Home. Associated Media Publishing het sy deure toegemaak, waardeur publikasies soos Cosmopolitan, House & Leisure en Good Housekeeping gesneuwel het.

Die krisis het Media24 genoop om in Julie drastiese herstrukturering by veral sy tydskrifafdeling te doen. Vyf tydskrifte en twee koerante se publikasie word gestaak, naamlik Men’s Health, Women’s Health, Runner’s World, Bicycling, Move!, Son op Sondag en Sunday Sun. Drie koerante (Volksblad, Die Burger Oos-Kaap en Son Oos-Kaap) en die tydskrif Drum word nou slegs aanlyn uitgegee. Daarby word immergroen tydskrifte soos Sarie, Weg en Fair Lady voortaan uitgekontrakteer en tweemaandeliks plaas van maandeliks uitgegee.

Die herstrukturering het tot die aflegging van 510 mense, meer as 17% van Media24 se totale personeelkorps, gelei teen ’n koste van R66 miljoen.

Jafta en Davidson sê die veranderinge “het ’n sterk grondslag gelê vir die voortsetting van ons strategiese reis om ’n volhoubare toekoms vir Media24 in ’n toenemend digitale wêreld te bou.”

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. Naspers en Prosus se resultate is ook Maandag uitgereik; dit word in afsonderlike berigte behartig.
Meer oor:  Naspers  |  Media24  |  Media  |  Tegnologie  |  E-Handel  |  Tydskrifte  |  Webwerwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.