Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Taxidiens vir vroue, deur vroue amper hier

Danielle Wright, stigter van ChaufHer, was eintlik nog nie gereed om haar taxidiens vir vroue en kinders – met slegs vroue as bestuurders – amptelik bekend te stel nie.

Vroue moet hul “beste lewe” kan lei – en tientalle voorbeelde van geweld deur Uber-bestuurders, of vermeende Uber-bestuurders, maak baie vroue bang om dié taxidiens te gebruik.

Maar iemand het die nuus versprei van dié beoogde nuwe Uber-kloon te midde van die landwye betogings oor geweld teen vroue en kinders, en nuusdekking “het net soort van ontplof” die afgelope week.

Die betogings het opgewel in die nadraai van onder meer die moord op die student Uyinene Mrwetyana in ’n Kaapse poskantoor reg langs ’n polisiekantoor en die verdwyning van tientalle kinders, onder hulle Amy’Leigh de Jager van Vanderbijlpark, een van min wat lewend gevind is ná haar ontvoering. Duisende vroue én mans het in Kaapstad na die parlement opgeruk, en ook na die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum, waar hoës saamgetrek was vir die Wêreld- Ekonomiese Forum vir Afrika.

Wright sê die idee vir ChaufHer het eintlik al twee jaar gelede ontstaan toe sy begin dink het hoe sy haar tweelingdogters (3) eendag veilig by ’n bestemming sal kan kry as sy self besig is met haar seuntjie (5).

Sy glo egter veral nou gaan die diens “verreikende gevolge” hê in die stryd teen geslagsgegronde geweld. Dit sal vroue en kinders toelaat om “hul beste lewe te lei” – sonder vrees dat hulle deur ’n taxibestuurder verkrag of vermoor gaan word.

ChaufHer gaan ’n appgegronde taxidiens wees, nes Uber en Bolt, maar dit verskil op ’n aantal baie belangrike punte.

  • Eerstens, gaan al die bestuurders vroue wees, en hulle gaan slegs vroue en kinders (jonger as 18 jaar) oplaai – geen uitsonderings nie. Nie eens heteroseksuele paartjies gaan opgelaai word nie.
  • Tweedens, sal ’n unieke eenmalige wagwoord aan sowel die bestuurder as die persoon wat sy oplaai, gestuur word en sal hulle kan verifieer dat hulle is wie hulle sê hulle is. Dit sal gevalle uitskakel waar vroue opgelaai word deur iemand wat voorgee hy is ’n Uber-bestuurder.
  • Derdens, sal passasiers ’n noodknoppie ontvang wat oombliklik verskillende nooddienste sal ontbied na waar hulle hulle ook al bevind.

Wright sê die nooddiens sal deur ’n gevestigde Suid-Afrikaanse maatskappy verskaf word – sy onderhandel met twee oor dié kontrak.

ChaufHer se app word op die oomblik finaal getoets en die diens kan so gou as November amptelik bekend gestel word, vir eers net in Kaapstad. In 2020 sal dit ook na Johannesburg en Durban uitgebrei word, en daarna so gou as moontlik landwyd.

Wright sê van haar vriendinne – baie van hulle ook ma’s – het die afgelope jaar aan haar sy gewerk om die idee te verwesentlik. Haar man finansier die onderneming. Sy het nou nege werknemers wat op ’n kontrakgrondslag aangestel is.

chaufher
ChaufHer se logo.

Wright se eie agtergrond is in mensehulpbronne, maar die afgelope paar jaar was sy ’n tuisblyma.

Wright sê sy was “aangenaam verras” deur die belangstelling van potensiële bestuurders vir die diens. Vir haar gaan dit nie net oor veiligheid nie, maar oor die bemagtiging van vroue. Sy sien dit as ’n wonderlike geleentheid vir vroue om ’n ekstra inkomste te verdien, maar met buigsame werkure.

Bestuurders sal hul eie voertuig moet hê, maar Wright ondersoek ook die moontlikheid dat ChaufHer voertuie sal koop en aan bestuurders verhuur of sal help om voertuie te finansier, met die besef dat nie alle vroue wat die geleentheid wil aangryp, kan bekostig om hul eie motor te koop nie.

Bestuurders deurloop bestuursopleiding en hul misdaadgeskiedenis word nagegaan. As hulle hul eie motors gebruik, sal die padwaardigheid daarvan gereeld nagegaan word.

  • Die ChaufHer-app sal binnekort op die App Store vir Apple se iPhone en Play Store vir Android-fone beskikbaar wees. Meer inligting is op die webwerf www.chaufher.com.
Meer oor:  Chaufher  |  Danielle Wright  |  Geweld Teen Vroue  |  Taxidiens  |  App
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.