SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tegnologie: 5 grootste aankondigings op AfricaCom
AfricaCom vind jaarliks in Kaapstad plaas. Foto: Petrus Malherbe

AfricaCom, die grootste tegnologiekonferensie op die vasteland, het Donderdag ná drie volgepakte dae ten einde geloop.

’n Oorweldigende aantal ondernemings van so ver as China, Spanje, Skandinawië en die res van Afrika het die konferensie benut om hul jongste tegnologieë voor ’n groot gehoor ten toon te stel.

Hier is vyf van die grootste aankondigings en bekendstellings wat op vanjaar se konferensie in Kaapstad gedoen is:

1. 5G, 5G en nóg 5G

Die oorhoofse tema van vanjaar se konferensie was sonder twyfel 5G, die ontluikende volgende generasie selfoonverbinding waaroor plaaslike diensverskaffers reeds ’n geruime tyd gons.

MTN en Huawei het met hul 5G-verbinding tydens AfricaCom gespog en ’n aflaaispoed van 1,6 gigagrepe per sekonde behaal – op ’n selfoon en oor ’n selfoonnetwerk!

Hoewel diensverskaffers en die verskaffers van die onderliggende tegnologie opgewonde is oor die koms van 5G, bly die gebrek aan spektrum steeds ’n netelige kwessie en het dit grootliks gesprekvoering oor die tema oorheers.

2. 4G nou ‘oral’ beskikbaar

Sowel MTN as Vodacom het afsonderlik bekend gemaak hulle bied nou 4G-dekking in al die lande waar hulle sake doen.

92,5% van Suid-Afrikaners het reeds toegang tot Vodacom se 4G-netwerk terwyl MTN dit reeds aan 95% van die bevolking bied.

Albei netwerke het aangedui hulle beplan om dié syfer nog verder te verhoog, hoewel dit in praktyk onmoontlik sal wees om 100% selfoondekking in Suid-Afrika te hê.

3. Vodacom bestee wild op die platteland

Vodacom het wel aangedui hy beplan om nog baie selfoontorings in die mees afgeleë plattelandse gebiede op te rig. Hy het egter nie spesifieke gebiede uitgesonder nie.

Die netwerk sê hy het in die afgelope jaar of wat reeds 450 nuwe torings op die platteland opgerig wat 4G-dekking in afgeleë gebiede tot bykans 83% verhoog het.

99% van metro’s word nou deur 4G gedek.

Andries Delport, Vodacom se tegnologiehoof, het ook in ’n gesprek met Netwerk24 gesê die diensverskaffer sal ondersoek instel na die moontlikheid om telekommunikasiedienste aan veral boere in afgeleë gebiede te lewer noudat Telkom aangekondig het hy beplan om binnekort van al sy landlyntegnologie ontslae te raak.

Vodacom het in die halfjaar tot einde September minstens R4,8 miljard aan die verbetering van sy netwerk bestee.

Rob Shuter, hoof van MTN, in gesprek met John Senior van Bain & Co op AfricaCom.Foto: Petrus Malherbe

4. Diensverskaffers nie meer (net) selfoonmaatskappye

Sowel MTN as Vodacom het ook met trots vertel hulle fokus nie meer net op die verskaffing van kommunikasiedienste nie.

Albei diensverskaffers bied nou ook ’n verskeidenheid van finansiële dienste, insluitend betaalplatforms en selfs versekering.

Trouens, Vodacom beweer hy is die enigste diensverskaffer ter wêreld wat ook ’n volwaardige versekeraar is.

In ’n gesprek met Netwerk24 het Mariam Cassim, Vodacom se hoof van finansiële dienste, vertel dat die maatskappy toenemend gaan fokus op die uitbreiding van dié tipe dienste, en dat hy reeds begin het om begrafnispolisse te bied.

Kontrakkliënte kan ook nou versekering uitneem sodat hul naasbestaandes nie verantwoordelik is vir uitstaande koste indien hulle iets oorkom nie.

Sowel Vodacom as MTN bied nou ook maniere om mobiele betalings uit te voer en om lugtyd aan te skaf en ander rekeninge regstreeks van jou selfoon af te betaal.

5. Almal wil slimfone goedkoper maak

Rob Shuter, MTN se uitvoerende hoof, het tydens AfricaCom benadruk die grootste probleem in Afrika is nie ’n gebrek aan toegang tot selfoondienste nie, maar eerder bekostigbare toestelle.

Net 35% van MTN se sowat 244 miljoen kliënte wêreldwyd gebruik hul selfone om toegang tot die internet te verkry, sê Shuter.

Dit is omdat die meeste mense steeds eenvoudige selfone sonder enige internetdienste gebruik.

Sowel MTN as Vodacom wil iets daadwerklik daaraan doen. Verskeie spotgoedkoop nuwe toestelle is by AfricaCom bekend gestel wat so min as R300 kos en toegang tot die internet en platforms soos WhatsApp en Facebook bied.

Volgens Shuter het MTN reeds “amper ’n halfmiljoen” van sy goedkoop selfone dwarsoor Afrika verkoop.

Vodacom het aangedui hy beplan om sy weergawe van ’n goedkoop selfoon teen die middel van aanstaande jaar na Suid-Afrika te bring nadat die diensverskaffer dit eers in Tanzanië bekend gaan stel.

Vodacom se Vibe-foon is wel al plaaslik beskikbaar en kos bykans dieselfde as MTN se spotgoedkoop Smart S.

Albei diensverskaffers hoop egter om die aanbod van goedkoop selfone in die volgende paar jaar aansienlik uit te brei.

Volgens Shuter en Andries Delport, tegnologiehoof van Vodacom, is die probleem die hoë koste van die 4G-antennas wat sulke toestelle benodig.

Netwerke wil doelbewus verouderde 2G- en 3G-tegnologie systap en gebruikers dwarsoor die vasteland opgradeer na 4G-fone, maar die tegnologie wat benodig word, is tans nog te duur.

Meer oor:  Mtn  |  Vodacom  |  Africacom  |  Selfoonnetwerk  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.