Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tegnologie in 2020: Van Zoom tot data wat uitlek

2020 was ongetwyfeld die jaar van inperking, maar dit beteken ook ’n jaar van innovasie.

Dink net aan al die Zoom-vergaderings en aanlyn inkopies. Die gebruik van tegnologie kom egter nie sonder gevare nie. Daar is ook groot kommer oor gevalle waar duisende kliënte se data uitgelek het.

Hier is die jaar se tien grootste tegnologiestories.

  

1. Aanlyn vergaderings

Meer as 700 000 ondernemings wat meer as tien werknemers het, betaal nou vir Zoom se diens. Foto: Reuters

Om aanlyn via platforms soos Microsoft Teams en Zoom te vergader was in 2020 aan die orde van die dag.

Die streng staat van inperking het maatskappye genoop om tegnologie te gebruik om op dié manier hul bedrywighede voort te sit.

Skole en universiteite het ook vinnig gespring en onderrig via verskeie van dié platforms hervat.

Maar dit is nie net sake en onderrig wat via dié platforms plaasgevind het nie. Selfs wynmakers  het hulle na veral Zoom gewend om op dié manier mense te kry om hul wyne te proe.

Die diamantreus De Beers sê weer hy het gevind mense wat mooi wil lyk op Zoom-vergaderings, het die verkope van juweliersware ’n hupstoot gegee.

   

2. Data

In Mei het ’n bedrieër wat toegang tot die kredietburo Experian se stelsel gekry het, persoonlike inligting van miljoene Suid-Afrikaners in die hande gekry. Experian het eers in Augustus erken dat dit gebeur het. Die meeste data wat gesteel is, hou verband met mense se identiteit en demografiese inligting. Hul bankbesonderhede is nie gesteel nie. Banke het egter hul kliënte aangeraai om eerder hul wagwoorde vir aanlyn bankdienste te verander.

In Desember het Absa ’n soortgelyke probleem gehad toe ’n werknemer na bewering van sy kliënte se data laat uitgelek het. Die bank het ’n strafregtelike klag teen die werknemer ingedien en die hardeware met die data daarop is gevind en die data vernietig.

  

3. Internetkabel

Was jou internet baie stadig aan die begin van die jaar? Dit was weens die ondersese Wacs-internetkabel wat gebreek en probleme veroorsaak het. Die kabel, wat Suid-Afrika via Brittanje aan die internet verbind, het boonop in Maart wéér gebreek.

Dit het tot ’n merkbare vermindering in die spoed van die internet in Suid-Afrika gelei. Die skade is uiteindelik vroeg in April herstel.

   

4. TV-lisensies

Die SAUK se hoofkantoor in Auckland Park, Johannesburg. Foto: Argief

Die SAUK se voorstel in Oktober dat verskaffers van betaaltelevisiedienste, insluitende DStv maar ook Netflix, moet begin om sy lisensiegelde namens hom van kykers te verhaal, het baie Suid-Afrikaners behoorlik die josie in gehad.

Selfs al word daar net na inhoud op ’n skootrekenaar, tablet of selfoon gekyk, sal kykers lisensiegelde moet betaal, was die SAUK se voorstel.

  

5. SAUK

Die SAUK was nie net in die nuus oor die TV-lisensies nie. In November was daar groot ongelukkigheid by die uitsaaier toe vakbonde met ’n grootskaalse staking oor die beplande aflegging van 400 werknemers gedreig het. Die proses om die werkers af te lê is later tydelik gestaak.

   

6. Outomatiese belasting

Jan Taks het ook nie geskroom om hom in 2020 tot tegnologie te wend om belasting in te samel nie.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het op 30 Julie sowat 3,1 miljoen SMS’e aan belastingbetalers gestuur nadat hul belasting outomaties geassesseer is.

Belastingbetalers het die keuse gehad om dié assessering te aanvaar of om veranderings aan hul indiening te maak.

  

7. WhatsApp

Die gewilde klets-app het in die jaar verskeie veranderinge aangebring. Een van die eerstes was die donker modus, oftewel “dark mode”. Kort daarna het hy aangekondig dat boodskappe wat reeds gestuur is, dan nie gelyktydig aan ’n klomp kontakte aangestuur kan word nie. WhatsApp het dit gedoen om veral die verspreiding van fopnuus gedurende die Covid-19-pandemie hok te slaan.

Nog ’n nuwe funksie op die klets-app is dat mense goedere en dienste regstreeks in WhatsApp kan aanskaf. ’n Nuwe betaalstelsel word tans vir die diens ontwerp.

Suid-Afrikaners kan hul eie digitale weergawe op Facebook skep.

  

8. ‘Avatars’ op Facebook

Het jy vanjaar vir jouself ’n digitale karakter (avatar) op Facebook geskep? Die funksie het die sosialemediaplatform behoorlik op horings geneem met derduisende weergawes van gebruikers wat oraloor opgeduik het. Facebook het erken dat deur gebruikers te lok om só ’n avatar te skep, hy poog om hulle te lok om deel van sy virtuele wêreld te word. Facebook kan dié gebruikers dan onder meer met meer spesifieke advertensies teiken.

  

9. 5G is hier

Suid-Afrika het in die jaar 5G-tegnologie gekry.

Vodacom was die vinnigste en het in Mei  die eerste 5G-netwerk in Afrika aangeskakel. Hy kon dit doen nadat hy tydelik bykomende breëbandspektrum gekoop het wat die Onafhanklike Kommunikasieowerheid vir die duur van die ramptoestand toegewys het.

Verskeie ander diensteverskaffers het deur die loop van die jaar ook die tegnologie beskikbaar gestel.

Die tekort aan hoëfrekwensiespektrum pootjie egter pogings om dit verder uit te brei.

 

10. ’n App vir jou kat

Ingenieurs wat gewonder het oor wat ’n kat nou eintlik wil sê, het vanjaar MeowTalk geskep. Dit is ’n app waarmee jy jou kat se geluide kan opneem en wat dit dan interpreteer om jou te laat weet wat die dier nou eintlik wil “sê”.

Javier Sanchez, tegniese hoof van die app, reken dit is veral nuttig in hierdie tye waarin kateienaars soveel tyd by die huis saam met hul troeteldiere deurbring.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Experian  |  Netflix  |  Absa  |  Whatsapp  |  Sauk  |  Covid-19  |  Tegnologie  |  Jaaroorsig  |  Jaaroorsig 2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.