Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tegnologie kan veediewe só help vasvat
Foto ter illustrasie.

Veediefstal word deesdae deur goed georganiseerde sindikate gepleeg – net soos met die stroping van renosters. Daarom kan tegnologiese oplossings wat teen renosterstropers ingespan word, ook met vrug teen veediewe gebruik word, sê Sunette Els, Vrystaatse streekbestuurder van MTN.

Sy het by dié selfoonreus se uitstalling op Graan SA se Nampo-oesdag buite Bothaville in die Vrystaat gepraat en gesê MTN se teenstropingsprogram, wat tans in die Welgevonden-natuurreservaat in Limpopo getoets word, is ’n lewensvatbare en kostedoeltreffende oplossing teen veediefstal.

“Ons het belangrike lesse geleer uit die loodsprogram by Welgevonden, wat aangepas kan word om ook boere by te staan om hul diere deurlopend dop te hou.”

Die program gebruik MTN se selfoonnetwerk om data oor die diere se bewegings in te samel en dadelik enige ongewone aktiwiteite op ’n plaas of in ’n wildreservaat op te merk en dit aan te meld via ’n beveiligde en toegewyde netwerkbediener.

“Een van die sleutelbevindings by Welgevonden is dat diere verskillend op verskillende stimuli reageer, wat die teenwoordigheid van diewe dadelik kan verklap.”

Sy sê oplossings soos wolkbedieners, rekenaarprogramme wat menslike gedagtepatrone naboots en die “internet van dinge”, oftewel toestelle wat met behulp van die internet werk, kan die landbousektor help met allerlei kwessies van waterbesparing tot veediefstal.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se berekenings is daar in 2016 tot 25 000 stuks vee in Suid-Afrika gesteel, terwyl die polisie se syfers toon dit is die algemeenste vorm van misdaad in die Vrystaat en die Oos-Kaap. Veediefstal in ander provinsies het ook toegeneem, maar meer as 70% van gevalle word nie eens meer aangemeld nie.

“Die koste van veiligheidsmaatreëls teen veediefstal troef soms die finansiële beplanning vir voedselproduksie, en waar boere voorheen met kleinskaalse veediewe te kampe gehad het, veg hulle nou teen gesofistikeerde sindikate wat vragmotors vol gesteelde vee wegry.”

Els sê dieselfde konnektiwiteitsoplossings wat vee opspoor, kan ook ingespan word om die dalende watervoorraad te monitor en die produktiewe gebruik van die grond aan te moedig.

“MTN het ’n oplossing ontwerp wat grondvog monitor en die boer laat weet wanneer dit nodig is om te besproei.” Die grondsamestelling oor ’n groot gebied heen kan met dieselfde toepassing gemeet word en korrektiewe voorstelle word gedoen oor byvoorbeeld die suurgehalte van die grond.

Els sê die bedryf krap nog net die oortjies van die seekoei as dit kom by data-ontleding en die insameling van groot hoeveelhede data. “Ons glo daar kan nog baie meer gedoen word om voedselproduksie te verhoog en lewensvatbare oplossings vir boere se uitdagings te skep.”

Meer oor:  Mtn  |  Voedsel  |  Veediefstal  |  Landbou  |  Tegnologie  |  Nampo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.