Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tegnologie van SA op pad na Frankryk
Aerobotics, wat hommeltuig-tegnologie vir boere ontwikkel, is een van die beginnerondernemings wat Afrika op die konferensie in Parys, Frankryk, gaan verteenwoordig. Foto: Aerobotics

Tien beginnerondernemings uit Afrika is afgevaardig om die kontinent op aanstaande week se Viva-tegnologiekonferensie in Parys, Frankryk, te verteenwoordig.

Ses uit die tien ondernemings is van Suid-Afrika, twee is van Senegal, en een is onderskeidelik van Kenia en Mauritius.

Viva is een van die wêreld se voorste tegnologiekonferensies waar innoveerders moontlike beleggers kan ontmoet.

Drie van die ses beginnerondernemings van Suid-Afrika wat die konferensie gaan bywoon, is Aerobotics, DataProphet en Guardian Gabriel.

“Ons is bevoorreg om gekies te wees om die konferensie by te woon,” sê Frans Cronjé, uitvoerende hoof van DataProphet.

Dié beginneronderneming ontwikkel tegnologie vir die vervaardigingsbedryf.

“Die Afrika-mark word dikwels deur buitelandse beleggers oorgesien,” sê hy. “Tog is hier meer as genoeg kennis en innovasie. Ons is opgewonde om ons oplossings vir die vervaardigingsbedryf aan beleggers te wys.”

DataProphet gebruik masjienleer en kunsmatige intelligensie om outomatisering in fabrieke te verbeter.

Aerobotics verskaf op sy beurt tegnologie aan boere om landerye en boorde met die gebruik van hommeltuie optimaal te bestuur.

Die ander Suid-Afrikaanse ondernemings wat na Parys gaan, is Guardian Gabriel, Homefarm en FinChatbot.

Guardian Gabriel vervaardig ’n paniekknoppie wat die owerhede kan kontak ingeval van nood, sonder dat ’n selfoon nodig is.

Sodra die knoppie gedruk word, stuur dit ’n noodsein met jou inligting na ’n sekerheidsmaatskappy.

Jou familie word ook van jou noodtoestand ingelig. Bestaande produkte in die mark, soos Vox Telecoms se 911-produk en Dial Direct se Namola, benodig albei ’n selfoon om op te werk.

Homefarm ontwikkel tegnologie waarmee die publiek tuis met organiese gewasse kan boer. ’n App op jou slimfoon sal jou help om die gewasse te plant, te onderhou en uiteindelik te oes.

FinChatBot bied ’n oplossing aan finansiële instellings soos banke om regstreeks met hul kliënte te kommunikeer om probleme vinniger uit te stryk.

Dit gebruik kunsmatige intelligensie om die vrae van kliënte te hanteer ten einde vinniger en meer doeltreffende terugvoering te gee.

Die ander ondernemings van Afrika wat na die konferensie gaan, is MedBit van Kenia, OniriQ en PayDunya van Senegal, en TravelBudds van Mauritius.

Die konferensie vind van 16 tot 18 Mei plaas.

Meer oor:  Konferensie  |  Vervaardiging  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.