Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
‘Telkom-diens klaar swak – hoe kan hy mense aflê?’

Vakbondverteenwoordigers het Woensdag geskok gereageer op die nuus dat Telkom byna ’n derde van sy arbeidsmag wil aflê.

Johan Botha, Solidariteit se adjunk-hoofsekretaris en woordvoerder oor kommunikasie, sê hoewel daar nou al lank gerugte van afleggings is, het die aankondiging hulle onkant betrap. Die omvang van die afleggings is ook buitengewoon hoog.

hillbrow-toring
Die Hillbrow-toring, wat deur Telkom bedryf word, teen die skemerlug in Johannesburg. Foto: Waldo Swiegers, Bloomberg

Botha sê Telkom sukkel reeds met dienslewering en dit gaan die “verstand te bowe” en is “onrusbarend” dat die onderneming dit oorweeg om nou soveel mense af te lê waardeur hy dan juis die vaardighede gaan prysgee wat vir beter dienslewering nodig is.

Luidens ’n brief wat Telkom gestuur het aan vier vakbonde wat die werknemers verteenwoordig, beoog hy om in ’n grootskeepse herstrukturering tot 3 000 van sy 9 059 werknemers af te lê.

Veral mense wat in afdelings vir vastelyn-stem- en datadienste werk, word geraak.

Botha sê Telkom het die veranderinge in die bedryf – mense wat oorskakel na mobiele dienste en nou ook na veselinternet – al lank sien kom, en moes die heropleiding van sy werknemers geprioritiseer het.

Botha sê hulle gaan as vakbond hul bes doen om die afleggings af te weer of ten minste te beperk. Hulle gaan nou met hul lede konsulteer sodat hulle konstruktiewe voorstelle na die onderhandelinge kan bring.

Botha sê hy hoop dat die hele konsultasieproses vrugte sal afwerp – dat die rasionaal wat Telkom vir die afleggings aanvoer, behoorlik deurtrap sal word en dat enige alternatiewe wat hulle ter tafel lê, oorweeg sal word.

Thabang Mothelo, mediawoordvoerder van die Information Communication Technology Union (Ictu), sê hulle gaan in beginsel die afleggings teenstaan. Die vakbond beskryf Telkom se strategie oor die afgelope jaar as “heeltemal ontoereikend”.

Die telekommunikasiefirma sê in die brief die afname in die gebruik van stemoproepe en vastelyndata (ADSL), sowel as “bedryfsondoeltreffendhede” is die belangrikste redes waarom soveel werknemers oortollig geword het.

Die eerste van twee rondes afleggings is by OpenServe, inligtingstegnologie en verbruikersdienste. Daar word voorsien dat die werknemers Telkom se diens reeds teen einde April vanjaar sal verlaat.

OpenServe is Telkom se afdeling wat groothandelsdienste verskaf. Met 7 899 werknemers is dit ook sy grootste afdeling. Telkom sê OpenServe se bedryfstruktuur is opgestel vir steun aan vastelyndienste, en so ook ’n groot deel van sy verbruikersafdeling.

Die tweede ronde afleggings is in Telkom se korporatiewe afdeling, waar 310 mense werk. Daar word voorsien dat dié ronde teen Augustus afgehandel sal wees.

Die brief stel vakbonde in kennis van die herstrukturering ingevolge art. 189 en art. 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Die vakbonde waaraan Telkom-werkers behoort, is benewens Solidariteit en Ictu ook die Communication Workers Union (CWU) en die South African Communications Union (Sacu).

Die eerste onderhandelings oor die afleggings of alternatiewe word op 22 Januarie gehou.

Telkom sê al meer mense skuif na mobiele data en vesel, gebiede waarop hy ’n veel kleiner rolspeler is.

Telkom blameer ook kwaai mededinging vir goedkoop data, insluitend die beweging #DataMustFall, en probleme met reguleerders, soos beheer oor pryse en die gesloer met die verkoop van breëbandspektrum vir die afleggings. Daarby blameer hy ook die swak makro-ekonomie.

Meer oor:  Telkom  |  Tegnologie  |  Internet  |  Solidariteit  |  Telekommunikasie  |  Ictu  |  Data  |  Afleggings  |  Cwu  |  #Datamustfall  |  Selfoonmaatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.