Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Telkom hap na Vodacom, MTN oor spektrum

Telkom reken die Onafhanklike Kommunikasieowerheid (Okosa) moet eers bestaande ooreenkomste tussen diensverskaffers ondersoek aangaande die gebruik van mekaar se spektrum, alvorens bykomende spektrum in Maart opgeveil word.

Die allokering van spektrum bly ’n netelige kwessie onder Suid-Afrikaanse diensverskaffers. Foto: Unsplash

Telkom, die land se derde grootste diensverskaffer op grond van sy aantal intekenare, het Maandag deelgeneem aan Okosa se spesiale ondersoek na mobiele breëbanddienste in Suid-Afrika.

Openbare kommentaar oor die kwessie word Maandag en Dinsdag aangehoor.

Siyabonga Mahlangu, die Telkom-groep se hoof van regulatoriese aangeleenthede, sê mededinging in die bedryf “werk nie”.

“Die strukturele probleme in die mobiele mark is verskans. Doeltreffende regulatoriese maatreëls is nodig om te verhoed dat die probleem vererger.”

Mahlangu maak spesifiek kapsie teen die groot diensverskaffers, insluitende Vodacom en MTN, se bestaande ooreenkomste met kleiner rolspelers waarvolgens hulle mekaar se allokering van radiospektrum deel.

“Hierdie ooreenkomste is nie normaal nie,” sê hy.

Volgens hom kry groot diensverskaffers nou toegang tot spektrum op kleiner netwerke soos Rain en Cell C, in stede van andersom.

“ ’n Normale ooreenkoms is een waar ’n klein, nuwe operateur toegang kry tot die netwerk van ’n gevestigde diensverskaffer vir ’n oorgangstydperk.”

Nou gebeur die teenoorgestelde. Vodacom het byvoorbeeld ’n ooreenkoms aangegaan met Rain, die land se jongste selfoonnetwerk, waarvolgens hy van Rain se spektrum gebruik maak.

Okosa beheer hoeveel spektrum elke diensverskaffer kan hê, maar keer blykbaar nie diensverskaffers om onder mekaar ooreenkomste aan te gaan nie.

MTN het soortgelyke ooreenkomste met Cell C en Liquid Telecom. Vodacom en Liquid Telecom het ook ’n ooreenkoms, sê Mahlangu.

Telkom het vroeër vandeesmaand ook die Mededingingstribunaal genader en gevra die besonderhede van Vodacom en Rain se ooreenkoms moet ondersoek word. Telkom argumenteer dit kom neer op ’n samesmelting tussen die maatskappye.

LEES OOK: Vodacom en Rain 'smelt saam,' kla Telkom

Vodacom se ooreenkoms met Rain gee hom toegang tot meer spektrum vir 4G-dekking, terwyl sy ooreenkoms met Liquid Telecom spektrum beskikbaar sal stel vir die uitbreiding van sy 5G-netwerk.

MTN gebruik weer die spektrum wat hy by Liquid Telecom en Cell C huur om sy 4G-dekking uit te brei.

Hierdie ooreenkomste veroorsaak dat diensverskaffers soos Vodacom en MTN in der waarheid oor meer spektrum beskik as wat hulle toegee, meen Mahlangu.

Met meer spektrum kan ’n diensverskaffer sy oorhoofse koste verlaag vir die oprig van netwerktoerusting. Dit maak ook sy netwerk vinniger en verbreed sy dekking.

Telkom vra Okosa se ondersoek na hierdie ooreenkomste moet voorkeur geniet alvorens hy meer beskikbare spektrum vroeg aanstaande jaar opveil.

Dié spektrum sal na verwagting ongelooflik duur wees en kan tot R1,1 miljard per allokering kos.

Diensverskaffers sal ook aan heelwat vereistes moet voldoen voordat bykomende spektrum aan hulle toegeken word. Dit sluit in dat individuele lisensiehouers (dus afsonderlike diensverskaffers) nie meer as 18% van die totale beskikbare spektrum mag besit nie, historiese allokerings ingesluit.

Dit is egter onduidelik of ooreenkomste tussen diensverskaffers om van mekaar se allokerings gebruik te maak, by hierdie totaal van 18% ingesluit word.

En dit is juis dit wat Telkom wil hê Okosa nou moet ondersoek en oor uitspraak lewer.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Rain  |  Okosa  |  Tegnologie  |  Diensverskaffers  |  Spektrum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.