SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
Telkom in sak en as oor Cell C, MTN nou saamwerk
Een van Telkom se winkels. Hoewel Telkom goeie groei toon, is hy steeds op grond van sy aantal intekenare Suid-Afrika se kleinste netwerk. Foto: Getty Images

Telkom is Maandag op die JSE gelooi nadat Cell C bevestig het dat hy ’n uitgebreide ooreenkoms met MTN aangegaan het om nog meer van sy netwerkinfrastruktuur te gebruik.

Telkom het verlede week aangebied om Cell C vir ’n onbekende bedrag te koop en Telkom se aandeelprys het die afgelope vyf dae met bykans 19% geval.

Die daling het begin kort nadat die maatskappy verlede Dinsdag ’n omsigtigheidsverklaring uitgereik het rakende ’n “groot verkryging” wat hy oorweeg.

Telkom het nie gesê watter maatskappy hy probeer bekom nie, en Cell C het eers Vrydag bevestig dat hy deur Telkom genader is.

Cell C wou Maandag by navraag nie sê hoe sy nuwe ooreenkoms met MTN Telkom se aanbod aan hom gaan beïnvloed nie.

Op die vraag of Cell C MTN se aanbod steeds oorweeg, het die maatskappy net geantwoord dat sy direksie “deurlopend deur verskeie partye genader word” en dat hy as onderneming daarop gefokus bly om sy omkeerstrategie deur te voer.

Sy ooreenkoms met MTN is juis deel van hierdie strategie.

Dit behels dat Cell C nou landwyd van MTN se netwerkinfrastruktuur gaan gebruik maak in stede daarvan om sy eie infrastruktuur op te rig en in stand te hou.

Cell C behou egter sy bestaande infrastruktuur, insluitende selfoontorings. Die ooreenkoms behels glad nie die oordrag van enige bates na MTN nie, sê Cell C.

Die diensverskaffer sal in sy toekomstige resultate aandui hoeveel hy deur die ooreenkoms spaar aan instandhoudingskoste en dies meer.

Douglas Craigie Stevenson
Douglas Craigie Stevenson, wat as uitvoerende hoof van Cell C aangestel is.

Tydsberekening ‘verdag’

Die feit dat Cell C gekies het om die aankondiging oor sy ooreenkoms met MTN so gou ná Telkom se aanbod te maak, dui waarskynlik daarop dat die diensverskaffer nie tevrede is met wat Telkom aangebied het nie, meen ontleders.

Cell C se aankondiging Maandag “verdoesel Telkom se aanbod”, het Dilya Ibragimova, ’n ontleder van Citigroup, aan Bloomberg gesê.

Die nuus maak die moontlike oorname van Cell C deur Telkom ook “baie meer kompleks” en kan Telkom dalk dwing om meer vir die diensverskaffer aan te bied as wat hy aanvanklik wou, sê Lester Davids, ’n ontleder by Unum Capital.

Daar is ook kommer dat Telkom in ieder geval nie die kapasiteit op sy balansstaat vir só ’n groot verkryging het nie.

Blue Label Telecoms besit 45% van Cell C. Hy het ’n paar jaar gelede meer as R5,5 miljard daarvoor betaal.

Die maatskappy se aandeelprys het met meer as 2,5% tot R2,83 gestyg met die nuus dat Cell C en MTN ooreengekom het.

MTN se aandeelprys het nie juis as gevolg van die nuus geroer nie.

Die diensverskaffer is wel oorgehaal om ingevolge sy ooreenkoms met Cell C goed geld te maak.

Volgens sy jongste resultate vir die drie maande tot einde September het Cell C reeds ingevolge ’n vroeëre ooreenkoms R750 miljoen aan MTN vir die gebruik van sy netwerk betaal.

Dié bedrag sluit wel ’n beduidende bedrag agterstallige skuld aan MTN in.

Dit is onbekend wat Cell C voortaan per maand of jaar aan MTN sal betaal, maar die bedrag sal waarskynlik in die maatskappy se komende resultate aangedui word.

Die ooreenkoms tree amptelik “vroeg in 2020” in werking en sal tot drie jaar neem om ten volle geïmplementeer te word. Gebruikers van die twee netwerke behoort geen verskil te bespeur rakende dienslewering nie. 

Volgens Cell C voldoen die ooreenkoms aan “al die toepaslike regulatoriese vereistes” en is die Onafhanklike Kommunikasieowerheid daaroor ingelig.

Meer oor:  Mtn  |  Cell C  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Diensverskaffer  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.