SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Tegnuus
Telkom Mobile, Cell C smelt dalk saam
A sign stands at the entrance to the Telkom SA SOC
Telkom het glo 'n aanbod gemaak om Cell C te koop. Foto: Getty Images

Telkom het glo aangebied om Cell C te koop, het persone met kennis van die saak aan Bloomberg bevestig.

Dit sal beteken Suid-Afrika se twee kleinste diensverskaffers gaan saamsmelt en ’n gesamentlike kliëntebasis van 27,4 miljoen intekenare bedien.

Selfs tesame sal die nuwe diensverskaffer steeds derde viool speel teenoor MTN en Vodacom wat albei meer intekenare het.

Telkom se aanbod bevat glo ’n plan om Cell C se massiewe skuldlas te verminder en om weer met verskaffers te onderhandel, sê die bronne wat nie geïdentifiseer wil word nie omdat die onderhandelinge nog plaasvind.

Kortom wil Telkom die bestuur van Cell C heeltemal oorneem.

Dit is nie bekend hoeveel Telkom bereid is om vir Cell C te betaal nie. Cell C se totale skuld beloop wel meer as R8 miljard.

Telkom het ook Dinsdag sy tussentydse resultate vir die ses maande tot einde September uitgereik. Daarvolgens het hy nou 11,5 miljoen intekenare in Suid-Afrika teenoor Cell C se 15,9 miljoen.

Die maatskappy het dieselfde dag ook ’n omsigtigheidsverklaring uitgereik waarin hy melding maak van ’n moontlike verkryging wat ’n wesenlike impak op sy aandeelprys kan hê.

Hoewel Telkom nie Cell C by name geïdentifiseer het nie, is dit moontlik dat hy na die verkryging van dié diensverskaffer verwys in die verklaring.

Cell C wou nie kommentaar lewer oor die beweerde transaksie nie.

Dié netwerk is reeds geruime tyd in gesprek met MTN om te onderhandel om meer van sy netwerkinfrastruktuur te gebruik.

Cell C doen dit in ’n poging om koste te besnoei. Hierdie onderhandelinge is reeds ’n paar maande in ’n “gevorderde stadium” met geen party wat meer daaroor wil verklap nie.

“Cell C bly daarop gefokus om dienste op ’n doeltreffende wyse te bied en om sy balansstaat te herstruktureer,” het die maatskappy aan Bloomberg gesê.

Daarbenewens is Cell C steeds besig om sy “hersiende netwerkstrategie” in werking te stel en sy likiditeit te verbeter.

Dit sal die derde keer wees dat Telkom probeer om Cell C te koop.

’n Vorige poging het ’n dooiepunt bereik nadat Cell C besluit het om eerder ’n ruim belegging van R5,5 miljard van die tegnologiemaatskappy Blue Label Telecoms te aanvaar.

Blue Label besit nou ’n belang van 45% in Cell C.

Die maatskappy het egter in Oktober erken hy is “uiters teleurgesteld” in Cell C aangesien hy noodgedwonge die waarde van sy belegging moes afskryf.

Telkom se aantal mobiele kliënte het in die ses maande tot einde September met ’n massiewe 76% tot 11,5 miljoen gestyg.

Dit is die enigste netwerk wat so sterk groei. MTN en Cell C boer die afgelope paar maande agteruit terwyl Vodacom se kliëntetal basies stagneer.

Telkom se aandeelprys het Dinsdag gunstig op die nuus van ’n moontlike verkryging gereageer en met meer as 4% tot R64,74 gestyg.

Meer oor:  Cell C  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.