Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Telkom Mobile is chihuahua van selfoon-firmas

Telkom se mobiele afdeling was jare lank ’n keffertjie met meer blaf as byt, maar nou begin dié chihuahua van selfoonmaatskappye aan die groot brakke se hakskene byt.

pixabay
Klein, maar getrein... Telkom Mobile het danksy goedkoper data ’n sterk mededinger vir groter selfoonmaatskappye geword. Foto: Pixabay

Telkom Mobiel rokkel al hoe meer vooruitbetaalde kliënte by sy twee grootste mededingers weg. Sien ook grafika hieronder.

Suid-Afrika se kleinste selfoonmaatskappy se getal vooruitbetaalde kliënte het die laaste jaar met byna 110% tot 7,8 miljoen toegeneem.

Telkom het Maandag sy resultate vir die jaar tot einde Maart uitgereik.

Daarvolgens het sy inkomste uit mobiele dienste met ’n ongelooflike 58,3% tot R8,15 miljard gestyg.

Dié afdeling verteenwoordig nou 20% van Telkom se totale bedryfsinkomste.

Sy getal kontrakkliënte het ook stewig toegeneem tot 1,9 miljoen, 27% meer as die vorige jaar.

In sy boodskap aan beleggers sê Sipho Maseko, uitvoerende hoof, dat die stewige groei in sy mobiele dienste hoofsaaklik te danke is aan Telkom se billike datapryse.

Die maatskappy het R5,9 miljard net uit die verkoop van mobiele data verdien.

Telkom Mobile het einde Maart 9,7 miljoen aktiewe gebruikers gehad, 86% meer as dieselfde tydperk in 2018.

In die ooreenstemmende tydperk het Vodacom se totale aantal intekenare met minder as 3% toegeneem en MTN s’n met minder as 1%.

As ongenoteerde maatskappy reik Cell C nie gereeld soortgelyke syfers uit nie.

Hoewel Telkom Mobile steeds Suid-Afrika se kleinste diensverskaffer is wat aantal gebruikers betref, is dit verreweg die netwerk wat die vinnigste groei.

Landlyndienste kwyn steeds

Teenoor die snel groei in sy mobiele dienste, neem Telkom se aantal landlyngebruikers steeds af.

Die maatskappy verskaf nou landlyndienste aan 2,2 miljoen huishoudings en ondernemings, ’n daling van 15%.

Sy getal breëband-intekenare daal ook en is nou minder as 850 000. Dit was bykans miljoen ’n jaar gelede.

Telkom sukkel om sy breëband-gebruikers te behou wanneer mense en ondernemings na optiese vesel oorskakel.

Met veselinternet wat al hoe algemener in groot stede word, het verbruikers bykans legio opsies onder diensverskaffers om van te kies. Telkom se reputasie as ’n sukkelende maatskappy wat kliëntediens betref, verhinder sy bestaande breëband-kliënte om na sy veseldienste oor te skakel.

As teenvoeter het Telkom begin om aanloklike datapakkette en bykomende waarde te bied om meer huishoudings te lok.

In teenstelling met die uitstekende groei in mobiele intekenare, het Telkom se aantal internetgebruikers, insluitende vesel, LTE en breëband, met net 8,4% tot 1,7 miljoen toegeneem.

Minder mense

Telkom het sy aantal permanente werknemers oor die laaste jaar met meer as 12% verminder.

Die meeste afleggings was die gevolg van vrywillige skeidingspakkette of vroeë aftrede, sê Telkom.

Die meeste afleggings was by sy afdeling vir tegnologiedienste, BCX, waar die getal permanente werknemers met 13,4% tot net meer as 5 700 verminder is.

Van Telkom se oorblywende personeel is 64% swart Suid-Afrikaners, 33% wit Suid-Afrikaners en 3% buitelanders.

Telkom se topbestuur is nou 100% swart teenoor 62% ’n jaar gelede.

Verbeterings aan infrastruktuur

Soortgelyk as die ander groot diensverskaffers het Telkom die afgelope jaar ’n aansienlike kapitaalbelegging in sy netwerkinfrastruktuur gedoen.

Die maatskappy het meer as R3 miljard belê in die uitbreiding van sy netwerk, wat verbeteringe aan bestaande selfoontorings en die oprig van verskeie nuwes insluit.

Telkom het ook begin om van Vodacom se netwerkinfrastruktuur gebruik te maak in gebiede waar hy nie sy eie torings het nie. Telkom het tot onlangs ’n ooreenkoms met MTN hiervoor gehad.

Die oorgang na Vodacom se infrastruktuur geskied in fases, sê Telkom. Die eerste fase, wat in Limpopo begin het, is reeds 80% voltooi.

Kliëntediens

Terselfdertyd sê Telkom hy gaan opnuut fokus om die vlak van sy kliëntediens te verbeter.

Verskeie lesers het vroeër vanjaar na Netwerk24 uitgereik oor hul nagmerrie-ervaring om ’n kontrak by Telkom te kanselleer.

Die maatskappy het beperkinge op sy rekeningstelsel daarvoor blameer.

In sy jaarverslag sê Telkom dienslewering bly ’n groot fokuspunt en dat hy “vasbeslote is” om dit binne die volgende jaar verder te verbeter.

Een manier waarop Telkom hoop om dit te vermag, is deur te digitaliseer sodat kliënte makliker en vinniger probleme aanlyn kan oplos.

In syfers

  • Wins ná belasting is 11,5% meer op R3,3 miljard.

  • Die maatskappy het ’n dividend van R3,62 per aandeel vir die jaar verklaar.
  • Sy aandeelprys het Maandag in ’n stadium met 5% tot R90,74 gestyg.
cell c
Meer oor:  Telkom Mobile  |  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Sipho Maseko  |  Selfoonmaatskappye  |  Tegnologie  |  Landlyn  |  Data  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.