Meer as 300 000 Telkom-kliënte het die afgelope ses maande na die maatskappy se veselnetwerk of mobiele internet (LTE) oorgeslaan toe hul kopergegronde dienste beëindig is.

Telkom hou aan om met rasse skrede in selfoontorings en veseltegnologie te belê. In die ses maande het die maatskappy R4,2 miljard se kapitaalbesteding gedoen. Foto: Getty Images
Die maatskappy spog ook daarmee dat Telkom Mobile markaandeel van mededingers wen danksy sy “bekostigbare” breëbandopsies.
In die ses maande tot einde September het Telkom se inkomste uit mobiele dienste met ’n enorme 56,6% tot R5,6 miljard opgeskiet, grootliks danksy die styging in sy aantal kliënte.
Die inkomste uit vastelyn-stemoproepe en interkonneksietariewe het egter met 19,1% gedaal.
In syfers
Telkom se syfers vir die ses maande tot einde September, vergeleke met dieselfde halfjaar van 2018, lyk as volg:
- Bedryfsinkomste styg met 4,7% tot R21,5 miljard
- Wesensverdienste per aandeel daal met 34,6% tot 187,7c
- Kapitaalbesteding styg met 29,1% tot R4,2 miljard
- Tussentydse dividend van 73,17c per aandeel is verklaar
Telkom hou aan om met rasse skrede in selfoontorings en veseltegnologie te belê. In die ses maande het die maatskappy R4,2 miljard se kapitaalbesteding gedoen, waarvan R2,2 miljard in die mobiele sektor belê is. Dis ’n styging van 66% vergeleke met 2018 se halfjaar.
Dié belegging gaan die oorskakeling van mense vanaf koper na LTE of vesel versnel.
Telkom het sy aantal mobiele basisstasies met 24,9% tot 5 476 verhoog.
Net ná die uitreiking van sy resultate het Telkom ’n omsigtigheidsverklaring uitgereik waarin hy sê hy is in gesprekke oor ’n potensiële verkryging. Geen besonderhede hieroor word verskaf nie.