Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Telkom stroom dalk ook in Afrikaans
Telkom se nuwe stromingsdiens, TelkomONE, gaan op slimtelevisies gekyk kan word. Foto: Unsplash

Telkom beplan om inhoud vir sy nuwe stromingsdiens in verskeie landstale en dalk selfs Afrikaans te vervaardig, het die maatskappy Donderdag op ’n aanlyn gesprek met die media gesê.

Telkom stel aanstaande maand sy eie stromingsdiens, TelkomONE, bekend.

Die diens gaan hoofsaaklik op plaaslike inhoud fokus, het Wanda Mkhize, hoof van inhoud by Telkom, gesê.

Op die vraag of dit Afrikaanse inhoud insluit, het Mkhize gesê daar sal hard probeer word om die stromingsdiens so “verteenwoordigend as moontlik” te maak.

Inhoud gaan in “verskeie tale” aangebied word en sal onderskrifte hê om dit so toeganklik moontlik te maak, het sy gesê.

Telkom het nog nie die prys van sy diens, wat na verwagting oor sowat ’n maand in bedryf gaan wees, bekend gemaak nie.

Toegang sal wel in daaglikse, weeklikse of maandelikse bondels verkoop word.

Intekenare van Telkom Mobile sal ook spesiale databondels kan aanskaf om die diens op slimfone te stroom.

’n Hele paneel sprekers het Donderdag by herhaling gesê die nuwe diens is gemik op jong mense, die marksegment wat klaar die meeste van hul inhoud op ’n selfoon kyk.

Stromingsdienste gemik op hoofsaaklik mobiele gebruikers het egter elders nie geslaag nie.

Quibi, wat in April in verskeie lande beskikbaar gestel is, het net meer as ’n week gelede aangekondig hy gaan sluit. Selfs nadat die diens meer as $2 miljard aan oorspronklike inhoud bestee het, kon hy nie daarin slaag om ’n betalende gehoor te lok nie.

Op eie bodem het Cell C se stromingsdiens, Black, ook aan die einde van 2019 gesluit juis omdat dit nie genoeg inkomste kon genereer nie.

Volgens Mkhize is Telkom “deeglik bewus” van hierdie mislukkings en het die maatskappy ’n “goeie begrip” van die mark.

“Ons het die vraagstukke geïdentifiseer en aandag daaraan gegee,” het sy gesê.

Oor die kwessie van data het Mkhize gesê Telkom het reeds planne beraam om die platform se dataverbruik so “doeltreffend moontlik” te maak, met die bedoeling dat dit so min as moontlik data sal benodig.

Sy het ook gesinspeel op spesiale datapakkette vir intekenare op die Telkom-netwerk, hoewel die diens aan enigiemand op enige netwerk beskikbaar sal wees.

TelkomONE sal op ’n verskeidenheid platforms, insluitend Android- en Apple-toestelle, beskikbaar wees.

’n Verskeidenheid van plaaslike televisiestasies word ook ingesluit “vir daardie kykers wat nog na iets op ’n sekere tyd wil kyk”. Hierdie kanale, “van die mees prominente netwerke”, sal ook nie agter die betaalmuur wees nie en is dus gratis om te kyk.

Volgens Mkhize vind finale onderhandelinge nog plaas en sal die lys van beskikbare kanale in ’n latere stadium aangekondig word.

Intussen het Telkom reeds bykans 80 aansoeke ontvang van plaaslike filmmakers wat inhoud vir die diens wil skep.

Amateur- en professionele filmmakers kon reeds die afgelope sowat twee weke voorstelle inskryf. Die wenners, wat deur ’n paneel kenners uit die bedryf gekies word, ontvang R100 000 as ’n “kontantinspuiting” om die projek voort te sit.

TelkomONE gaan aanvanklik geen flieks as deel van sy aanbod bied nie. Sy fokus is op sogenaamde “mobivelas”, sepies en telenovellas wat maklik op ’n selfoon gekyk kan word.

Telkom se stromingsdiens ding regstreeks mee met MultiChoice se Showmax, die internasionale Netflix en ook Vodacom se VodaPlay.

Danksy sy vennootskap met kykNET bied Showmax reeds ’n verskeidenheid Afrikaanse inhoud aan. Netflix het in die laaste paar maande ook begin om al meer Afrikaanse inhoud, hoofsaaklik flieks, in te sluit.

Meer oor:  Telkomone  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Televisie  |  Stromingsdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.