Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tencent kry goeie nuus uit Amerika

Pres. Donald Trump se administrasie het weer misluk in sy jongste poging om die “super-app” WeChat in Amerika te verbied.

’n Regter het vroeër beslis dat so ’n verbod ’n skending van die gebruikers se reg op vryheid van spraak sal wees en dit geweier.

’n Amerikaanse appèlhof in San Francisco het Maandag om dieselfde redes die administrasie se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys.

Tencent se aandeelprys het kort ná die nuus uit Amerika met soveel as 3,1% tot sy hoogste vlak in meer as twee weke geklim.

Trump het vroeër vanjaar gelas dat Apple en Google WeChat in hul onderskeie app-winkels moet verbied.

WeChat behoort aan die Chinese tegnologiereus Tencent, waarin die Naspers-filiaal Prosus ’n belang van nagenoeg 31% besit.

Die rede vir Trump se voorgenome verbod is uit vrees vir Amerika se nasionale veiligheid. Die administrasie voer aan dat WeChat ’n bedreiging inhou weens Tencent se noue bande met die Chinese Kommunistiese Party, wat die app kan aanwend om propaganda te versprei, gebruikers op te spoor en hul private inligting te versamel.

Tencent se hoofkantoor in Shenzhen, China. Foto: Reuters

Die administrasie het ’n soortgelyke argument gebruik om die gewilde app TikTok, wat ook deur ’n Chinese maatskappy besit word, te dwing om sy Amerikaanse bedrywighede te verkoop.

Regter Laurel Beeler het in September ’n voorlopige bevel uitgereik wat die verbod van WeChat in Amerika verbied nadat ’n groep gebruikers die dringende aansoek ingedien het.

Die gebruikers het geargumenteer dat die verbod inbreuk maak op hul reg op vryheid van spraak aangesien miljoene Chinese sprekers wat buite China woon, daarop staatmaak om met hul familie en vriende in China te kommunikeer.

Die app het sowat 19 miljoen gereelde gebruikers in Amerika en meer as een miljard wêreldwyd.

In Maandag se beslissing het ’n paneel van drie regters bevind dat die administrasie nie kon bewys dat die verloop van die litigasie ’n “dreigende en onherstelbare skade” inhou nie.

Al het Tencent ’n uitstel gekry in die algehele verbod op WeChat, kan beperkings steeds op die gebruik van die app se betaaldienste ingestel word.

Die Amerikaanse owerhede het agter die skerms begin met gesprekke om maatreëls in te stel teen WeChat Pay en Alipay, het ingeligte bronne gesê.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. Prosus is die Naspers-filiaal wat die groep se internasionale internetbelange huisves.
Meer oor:  Tiktok  |  Bytedance  |  Prosus  |  Wechat  |  Naspers  |  Tencent  |  Tegnologie  |  Verbod  |  Donald Trump
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.