Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tencent nou China se waardevolste maatskappy
Die embleem van die Chinese internetreus Tencent, wat nou die grootste maatskappy in China is.

Tencent Holdings het China Mobile verbygesteek en China se waardevolste maatskappy geword. Dit onderstreep die toenemende belangrikheid van florerende private maatskappye vergeleke met groot staatsbeheerde instellings in dié land.

Tencent se aandeelprys het Maandag met 4,2% tot HK$210,20 in Hongkong gestyg en sodoende aan die maatskappy ’n markwaarde van HK$1 990 miljard gegee. China Mobile se markwaarde is HK$1 970 miljard.

Tencent tel nou onder een van die wêreld se tien grootste maatskappye, wat ook ander tegnologiemaatskappye soos Apple en Alphabet (voorheen Google), insluit.

Tencent se aandeelprys het die afgelope vier jaar vervierdubbel namate hy ’n voorsprong bo mededingers gebou het in mobiele speletjies en aanlynadvertensies.

China se waardevolste maatskappye was sedert 2006 meestal reuse wat deur die regering beheer word, soos China Mobile, die Industrial & Commercial Bank of China of PetroChina. Tencent se grootste mededinger, Alibaba, het die titel in 2014 net ná sy notering kortstondig gehou.

Tencent se opmars onderstreep die nuwe realiteite van die wêreld se naasgrootste ekonomie. Private ondernemings, wat dekades lank gemarginaliseer is deur ’n staatsektor wat maklike finansiering van staatsbanke kon kry, speel nou ’n belangrike rol in innovasie en indiensneming. Hulle lei ook China se verskuiwing na ’n ekonomie wat deur verbruik aangevuur word.

“China se ekonomiese herstrukturering gebeur baie vinniger as wat baie verwag het,” sê Shen Jianguang, hoofekonoom van Mizuho Securities Asia.

Dienste was verlede jaar vir die eerste keer vir meer as die helfte van die land se uitset verantwoordelik, terwyl verbruikersbesteding vanjaar reeds 70% van die land se bruto binnelandse produk uitmaak.

Die opkoms van maatskappye soos Tencent wys dat China nog meer van sy groeipotensiaal kan ontsluit deur meer marktoegang aan private maatskappye te bied en staatsmonopolieë in toom te hou, sê Jianguang.

Chinese internetmaatskappye word ook versterk deur die klem wat die staat nou plaas op hul strategiese belangrikheid vir die land. Hulle word nou plaaslik gehelp met die insameling van kapitaal en erken as belangrike rolspelers, maar dit was nie altyd so nie.

Dié soort maatskappye het jare lank gesukkel om plaaslike kapitaal in te samel of ondersteuning te kry. Hulle het elders gekyk vir beleggers en Alibaba het beleggings van SoftBank en Yahoo! gekry, terwyl Naspers in Tencent belê het. – Bloomberg

* Netwerk24 is in die stal van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Naspers  |  Tencent  |  Hongkong  |  China
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.