Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tesla, Apple en ander beskuldig van kinderarbeid
Bestaansmyners in ’n kobaltmyn in die DRK. Foto: Reuters

Vyf van die wêreld se grootste tegnologiemaatskappye word in ’n hofsaak daarvan beskuldig dat hulle medepligtig was aan die dood van kinders in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) wat gedwing is om kobalt te myn.

Kobalt word gebruik in die vervaardiging van telefone en rekenaars.

Die klag namens 14 Kongolese gesinne is Sondag deur International Rights Advocates, ’n Amerikaanse organisasie sonder winsbejag vir menseregte, ingedien teen Tesla, Apple, Alphabet, Microsoft en Dell Technologies.

Luidens die verklaring vorm die maatskappye deel van ’n stelsel van dwangarbeid wat volgens die gesinne óf hul kinders se dood veroorsaak het óf tot ernstige beserings gelei het.

Dit is die eerste keer dat dié sektor deur ’n gesamentlike klag oor die bron van kobalt in die gesig gestaar word.

Foto’s in die hofstukke, wat in die distrikshof in Washington DC voorgelê is, wys kinders met gebreklike of vermiste ledemate.

Luidens die verklaring is ses van die 14 kinders in die saak in tonnelstortings dood, en die ander het lewensveranderende beserings opgedoen, insluitend verlamming.

“Hierdie ondernemings – die rykste ondernemings ter wêreld, hierdie luukse ondernemings wat toestelle vervaardig – het toegelaat dat kinders vermoor en doodgemaak word om hul goedkoop kobalt te bekom,” het Terrence Collingsworth, ’n prokureur wat die gesinne verteenwoordig, aan die Thomson Reuters-stigting gesê.

Kobalt is noodsaaklik in die maak van herlaaibare litiumbatterye wat gebruik word in miljoene produkte wat deur die tegnologiebedryf verkoop word.

Meer as die helfte van die wêreld se kobalt word in die Kongo geproduseer.

Volgens die hofgeding word die kinders, so jonk as ses jaar oud, deur die uiterste armoede van hul gesinne gedwing om skool te verlaat en in kobaltmyne te gaan werk.

Die myne behoort aan die Britse mynmaatskappy Glencore.

Glencore is voorheen daarvan beskuldig dat hy kinderarbeid gebruik.

Sommige kinders is so min as $1,50 per dag betaal. Hulle werk ses dae per week.

Kommentaar

In reaksie op ’n versoek om kommentaar, sê Dell in ’n e-pos dat hy “nooit bewustelik kinderarbeid gebruik het nie” en dat ’n ondersoek na die bewerings begin is.

’n Woordvoerder van Glencore sê “Glencore neem kennis van die aantygings wat vervat is in ’n Amerikaanse regsgeding wat op 15 Desember 2019 ingedien is.

“Glencore se produksie van kobalt in die DRK is ’n neweproduk van ons industriële koperproduksie. Glencore se bedrywighede in die DRK koop of verwerk geen erts wat deur bestaansmyners ontgin word nie.

“Glencore duld geen vorm van kinder-, dwang- of verpligte arbeid nie.”

Tesla, Apple, Google en Microsoft het nie onmiddellik kommentaar gelewer nie.

– Reuters, verwerk

Meer oor:  Google  |  Alphabet  |  Dell  |  Tesla  |  Glencore  |  Apple  |  Microsoft
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.