Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tieners: Beskerm julself só aanlyn
Tieners is uiters kwesbaar vir kubermisdadigers. Foto: Pexels

Vandag se tieners word dalk met ’n slimfoon in die hand groot, maar dit beteken ongelukkig nie hulle is bewus van die gevare wat die internet inhou nie.

Dit sluit in die steel van hul identiteit, die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie en slenters waarop hulle nie bedag is nie.

“Tieners se kredietwaardigheid is nog ongeskonde, daarom is hulle nie baie bewus van die beveiliging van hul identiteit in ’n digitale omgewing nie,” sê prof. Elmarie Biermann, direkteur van die Cyber Security Institute.

Dié instituut bied verskeie slypskole aan vir tieners oor watter inligting veilig is om aanlyn te deel en watter inligting deur misdadigers gebruik kan word om die tiener en hul gesin te teiken.

Tieners deel gans te maklik hul persoonlike inligting aanlyn, meen Biermann. In baie gevalle is hulle nie eens bewus daarvan nie.

Veral die gier onder jong mense om foto’s van alledaagse dinge soos vliegtuigkaartjies of paspoorte op Instagram te deel, is kommerwekkend.

“Gaan soek ’n bietjie op Instagram onder #Boardingpass en kyk hoeveel resultate is daar.”

Hoe kan tieners hulself beskerm?
  • Maak seker jou profiel op sosiale media is as privaat gestel sodat jy meer beheer het oor wie jou plasings kan sien.
  • Kyk gereeld wie jou op Instagram volg en let veral op onbekende rekeninge wat dikwels van jou foto’s hou.
  • Skakel die funksie af dat jou ligging saam met foto’s gestoor word. Hoewel sosialemediaplatforms soos Twitter dié data verwyder, gebeur dit nie op foto’s wat byvoorbeeld op WhatsApp gedeel word nie.
  • Kies ’n unieke wagwoord vir elke rekening wat jy het en gebruik ’n wagwoordbestuurder soos LastPass om dit namens jou te onthou.

Enigeen van dié foto’s waarop die strepieskode van ’n vliegtuigkaartjie sigbaar is, kan deur ’n eenvoudige slimfoonapp geskandeer word en so kan persoonlike inligting soos jou naam, van en die lugdiens waarmee jy reis, bekom word.

Klets met vreemdelinge

Tieners doen ook nie genoeg om hulle teen sogenaamde catfishing te beskerm nie. Dit is wanneer jy ’n gesprek met ’n vreemdeling aanknoop wat nie is wie hulle voorgee om te wees nie.

“Doen eers deeglike navorsing voordat jy by ’n nuwe kletskamer of groep aansluit,” raai Biermann aan. “Moet nooit persoonlike inligting met ’n vreemdeling deel nie en wees altyd bewus van die feit dat die persoon aan die ander kant nie noodwendig is wie hulle voorgee nie.”

Doen wat jy kan om die persoon se identiteit te bevestig. “Die vriend-van-’n-vriend-protokol is ’n goeie idee en kom daarop neer dat jy nie iemand bevriend wat nie minstens klaar bevriend is met een persoon in jou bestaande vriendekring nie.”

Vals advertensies

’n Ander soort kubermisdaad waarvoor tieners katvoet moet wees, is vals advertensies.

Biermann waarsku teen advertensies wat op sosiale media versprei word waarin byvoorbeeld ’n oorsese reis gewen kan word. Al wat jy moet doen, is om jou te registreer met jou e-posadres en wagwoord.

Daar is egter geensins so ’n vakansie op die spel nie en skelms gebruik dié truuk om hul hande te lê op e-posadresse en wagwoorde. En aangesien tieners (en volwassenes) geneig is om dieselfde wagwoord oral te gebruik, het die boewe nou toegang tot verskeie van hul rekeninge.

Kaalfoto’s

Biermann waarsku ook dat tieners nooit, ooit kaalfoto’s van hulself moet neem en aanstuur nie. “Die kans dat dit buite jou vriendekring beskikbaar gaan wees, is feitlik ’n gegewe. Dit eindig uiteindelik op ’n internasionale bediener vir pornografie en is uiters moeilik om te verwyder.”

Tieners is dalk ook nie bewus dat dit onwettig is om sulke eksplisiete foto’s of video’s te neem en aan te stuur nie aangesien dit neerkom op die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie.

“Tieners moet besef hulle is deel van die groter prentjie en leef in ’n gekonnekteerde wêreld. Dit is belangrik dat hulle verstaan hoe hul inligting gebruik kan word om hulself en hul gesin te teiken.”

Meer oor:  Sosiale Media  |  Slimfone  |  Tieners  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.