Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tik, tok, tik, tok – die tyd is op, sê Trump

Die gewilde video-app TikTok asook WeChat – albei Chinese produkte – moet teen vanaand uit alle Amerikaanse app-winkels verwyder word, het die regering van pres. Donald Trump aangekondig.

TikTok het 100 miljoen Amerikaanse gebruikers en WeChat gemiddeld 19 miljoen aktiewe gebruikers in Amerika per dag. Foto: Getty Images

Hoewel Amerikaners wat dié apps op hul fone het, steeds die bestaande weergawes sal kan gebruik, sal baie funksies nie meer beskikbaar wees nie en sal nuwe weergawes nie afgelaai kan word nie.

Amerika sê die apps bedreig nasionale veiligheid omdat dit Amerikaanse gebruikers se data insamel.

Die verbod is minder drakonies as wat verwag is, veral vir TikTok, en gee dié app se eienaar, ByteDance, nog kans om ’n ooreenkoms oor sy toekoms in Amerika te beklink.

TikTok het 100 miljoen Amerikaanse gebruikers en WeChat gemiddeld 19 miljoen aktiewe gebruikers in Amerika per dag, het die ontleders van Apptopia in Augustus gesê.

WeChat, die Tencent-groep se geïntegreerde boodskap-, sosiale media- en elektroniese betaal-app, word van vanaand af deur erger maatreëls getref terwyl TikTok-gebruikers eers ná 12 November ’n groot verskil sal sien wanneer ’n reeks transaksies op die app onmoontlik sal word.

Die verbod op die aflaai van TikTok kan nog opgehef word deur Trump indien ByteDance ’n ooreenkoms met die Amerikaanse maatskappy Oracle sluit wat die reguleerder se vrese oor die sekuriteit van gebruikers se data besweer.

“Dit is die regte skuif – vergroot die druk op die Chinese regering en beskerm Amerikaners,” het die Republikeinse senator Josh Hawley op Twitter geskryf.

Trump se regering het stappe verskerp teen “onbetroubare” Chinese apps te midde van toenemende spanning met die Chinese regering oor ’n reeks kwessies, van handel tot menseregte en die stryd om tegnologiese opperheerskappy.

Die stappe teen WeChat, wat wêreldwyd meer as 1 miljard gebruikers het, sluit in ’n verbod op die oordrag van geld of die verwerking van betalings na of van mense in Amerika deur die app.

Die departement van handel verbied Apple, Alphabet se Google Play-winkel en ander app-webruimtes om TikTok of WeChat beskikbaar te maak op enige platform wat uit Amerika toeganklik is.

Trump se bevel verbied nie Amerikaanse maatskappye om buite Amerika op WeChat sake te doen nie, wat goeie nuus sal wees vir maatskappye soos Walmart en Starbucks, wat WeChat se ingeboude mini-apps gebruik vir transaksies en kommunikasie met klante in China, het amptenare gesê.

Transaksies met Tencent se ander ondernemings, wat aanlyn speletjies insluit, word ook nie verbied nie en Apple, Google en ander app-platforms sal nie verbied word om TikTok en WeChat in markte buite Amerika – soos Suid-Afrika – beskikbaar te maak nie.

Trump het op 6 Augustus uitvoerende opdragte geteken wat die departement van handel 45 dae gegee het om te bepaal watter transaksies verbied moet word op apps wat volgens hom die land se veiligheid bedreig. Die spertyd is vandag.

Amptenare sê die stap is nodig weens die risiko’s van data-insameling deur TikTok en WeChat. China en albei maatskappye ontken dat Amerikaanse gebruikers se data vir spioenasie gebruik word.– Reuters

Meer oor:  Bytedance  |  Sosiale Media  |  Wechat  |  Tiktok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.