Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
TikTok-baas bedank ná net 3 maande

Kevin Mayer, uitvoerende hoof van TikTok, het bedank net drie maande nadat hy hom by die maatskappy aangesluit het.

Sy bedanking kom ook slegs enkele dae nadat TikTok die Amerikaanse regering gedagvaar het weens ’n uitvoerende bevel deur pres. Donald Trump, wat dreig om die sosiale platform in die land te verbied.

Vanessa Pappas, tans die bestuurder van TikTok se Amerikaanse bedrywighede, sal tydelik in sy pos waarneem.

TikTok behoort aan die Chinese tegnologiemaatskappy ByteDance.

Mayer, wat voorheen hoof van die Walt Disney Company se afdeling vir stromingsdienste was, het op 1 Junie as die uitvoerende hoof van TikTok begin.

“Die politieke speelveld het in die laaste paar weke heeltemal verander, en ek het diep nagedink oor watter strukturele veranderinge in die maatskappy nodig is,” het Mayer in ’n brief aan die werknemers gesê.

“Daarom, en omdat ons binnekort ’n oplossing gaan vind (rakende die onderhandelinge oor die verkoop van TikTok se Amerikaanse bedrywighede), het ek besluit om die maatskappy te verlaat.”

TikTok se uitvoerende hoof, Kevin Mayer, het bedank. Foto: Reuters

TikTok het Mayer se bedanking in ’n verklaring bevestig.

Zhang Yiming, uitvoerende hoof van ByteDance, het in ’n afsonderlike skrywe aan personeel gesê sake beweeg “vinnig” om ’n oplossing vir die maatskappy se probleme, veral in die VSA en Indië, te vind.

Hy het gesê Mayer het hom by die maatskappy aangesluit in wat “waarskynlik ons mees uitdagende tyd is. Dit is nooit maklik om ’n leierskapsposisie te beklee in ’n maatskappy wat so vinnig verander soos ons s’n nie, en die omstandighede waaronder hy hom aangesluit het, maak dit nog meer ingewikkeld,” het Zhang gesê.

Te midde van die toenemende wantroue tussen die VSA en China in die laaste paar maande, het Trump in Augustus beweer dat TikTok ’n bedreiging vir die land se nasionale veiligheid inhou en waarskynlik die inligting van sy gebruikers met die Chinese regering deel.

Trump het op 6 Augustus ’n uitvoerende bevel onderteken wat TikTok effektief van die middel van September af in die VSA sal verbied.

Op 14 Augustus het hy ’n afsonderlike bevel onderteken wat ByteDance 90 dae gee om TikTok se Amerikaanse bedrywighede te verkoop.

ByteDance onderhandel tans om TikTok se bedrywighede in die VSA, Kanada, Australië en Nieu-Seeland vir enigiets tussen $25 miljard en $30 miljard te verkoop.

Verskeie maatskappy, waaronder Microsoft en Oracle, stel glo belang.

ByteDance was ook in die visier van die Indiese owerhede, waar TikTok ná ’n voorval op die land se grens met China een van 59 Chinese apps is wat in Junie daar verbied is.

Mayer het toe aan die Indiese regering geskryf en gesê China het nog nooit enige data oor sy gebruikers van TikTok geëis nie, en ook dat TikTok dit nooit sou oorhandig sou hulle daarvoor vra nie.

Pappas het haar in Januarie 2019 as algemene bestuurder by TikTok aangesluit. Sy was voorheen die hoof van kreatiewe insigte by YouTube.

Meer oor:  Tiktok  |  Bytedance  |  Verbod  |  Sosiale Media  |  App  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.