Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
TikTok, WeChat van Sondag verbied in VSA

Amerika se pres. Donald Trump se verbod op die gebruik van TikTok en WeChat in dié land is besig om gestalte aan te neem.

Wilbur Ross, minister van handel, het Vrydag aangekondig sekere transaksies gaan van Sondag af op die Chinese app WeChat verbied word. Niemand in die land sal ná die naweek meer die TikTok- of WeChat-app kan aflaai nie.

Kontantoorplasings binne Amerika met WeChat word van Sondag af verbied.

WeChat word besit deur Tencent, die Chinese internetreus waarin Naspers ’n belang van sowat 31% besit.

Nes TikTok sal niemand in Amerika van Sondag af WeChat daar kan aflaai nie. Enige bywerkings tot hierdie apps is ook nie meer van Sondag af beskikbaar nie.

Gebruikers van WeChat sal steeds kontant na rekeninge oorsee kan stuur.

“Vir alle praktiese doeleindes word WeChat in Amerika afgeskakel,” het Ross aan Fox Business gesê.

Amerikaners sal steeds WeChat kan gebruik om betalings in China te doen, het hy gesê.

TikTok bly in sy huidige formaat in bedryf tot 12 November, maar die app sal ook nie meer in die Google Play- of Apple-winkel beskikbaar wees nie.

Gebruikers sal ook nie enige bywerkings tot die app kan aflaai nie.

WeChat en TikTok is reeds geruime tyd in pres. Donald Trump se visier. Foto: Reuters

Volgens die handelsdepartement gee Trump TikTok se Chinese eienaar, ByteDance, tot 12 November kans om kommer rakende “nasionale veiligheid” op te klaar.

Sou die redes tot kommer uit die weggeruim word, sal die verbod gelig word.

Trump en sommige van sy amptenare voer aan ByteDance hou ’n veiligheidsrisiko in omdat dit deur middel van TikTok toegang het tot miljoene Amerikaners se persoonlike inligting.

Die handelsdepartement het nou die onus op Google en Apple geplaas om TikTok en WeChat teen 20 September uit hul onderskeie app-winkels in Amerika te verwyder.

Gebruikers wat reeds die app geïnstalleer het, word nie deur die verbod geraak nie, maar verloor toegang tot enige bywerkings en verbeteringe.

Apple en Google het nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Die verbod kan ook Amerikaanse ondernemings raak wat betalings oor WeChat toelaat aangesien die verbod geld vir alle betalings op WeChat wat in Amerika plaasvind.

“Die Chinese regering het die middele en motiewe getoon om hierdie apps te gebruik om die nasionale veiligheid, buitelandse beleid en die ekonomie van Amerika te bedreig,” het die handelsdepartement Vrydag in ’n verklaring gesê.

Die departement het laat in Augustus verskeie vergaderings met belanghebbendes gehou om te probeer uitpluis watter impak ’n moontlike verbod op TikTok en WeChat op hul eie bedrywighede kan hê.

Sommige Amerikaanse tegnologiemaatskappye het die Trump-administrasie gevra om hulle toe te laat om steeds sake te doen met ByteDance en Tencent deur middel van hul bestaande bedrywighede in Asië.

Hulle het ook gevra dat Amerikaners wat in die buiteland woon steeds die apps kan gebruik.

Trump het aanvanklik op 6 Augustus aangekondig hy gaan WeChat en TikTok in Amerika verbied.

ByteDance is toe 45 dae gegee om sy bedrywighede in Amerika te verkoop.

Die maatskappy is tans in gesprek met die Amerikaanse tegnologiemaatskappy Oracle om minstens ’n deel van sy bedrywighede daar oor te koop, hoewel ’n finale ooreenkoms nog nie bereik is nie.

Tencent se aandeelprys is tot dusver nie noemenswaardig deur die aankondiging in Amerika geraak nie.

Naspers se aandeelprys is eweneens stabiel op R2 898,85.

  • Netwerk24 is deel van Media24, ’n filiaal van Naspers.
Meer oor:  Tiktok  |  Wechat  |  Tencent  |  App  |  Tegnologie  |  Verbod  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.