Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tinder se stigters soek $2 mjd. van nuwe eienaars
Tinder se medestigters sleep nou sy nuwe eienaar hof toe vir skadevergoeding. Foto: Pexels

Tinder se medestigters en verskeie vroeëre en huidige werknemers sleep die afspraakapp se huidige eienaars hof toe vir skadevergoeding van $2 miljard.

Die eisers, onder wie die medestigters Sean Rad, Justin Mateen en Jonathan Badeem, beweer InterActiveCorp (IAC) en die Match-groep, wat Tinder besit, het die app in 2017 doelbewus onderwaardeer sodat hulle minder in aandele-opsies aan die applikante hoef te betaal.

Tinder is toe op $3 miljard gewaardeer, dieselfde bedrag as twee jaar tevore, berig CNN.

Die applikante sê intussen het Tinder se verdienste en aantal gebruikers skerp toegeneem.

In ’n verklaring sê IAC daar is geen gronde vir die klag nie en hy gaan hom “heftig daarteen verdedig”.

Luidens die verklaring is Rad en die ander medestigters omgekrap omdat Tinder so ’n “enorme sukses” beleef meer as ’n jaar nadat hulle die maatskappy verlaat het.

Rad het aan CNN gesê IAC “het finansiële data gemanipuleer en ons basies van miljarde dollars ontsê”.

Sowel Match as IAC se aandeelprys het gedaal nadat die hofsaak aan die lig gekom het.

Intussen berig Forbes die vier huidige werknemers van Tinder wat onder die applikante tel, is op administratiewe verlof geplaas.

In sy jongste resultate wat vroeër die maand uitgereik is, sê Match sy inkomste net uit Tinder het die afgelope jaar met 136% toegeneem terwyl sy aantal gebruikers met 81% gestyg het.

In ’n gesprek met beleggers het Match, wat ook verskeie ander afspraakdienste besit, gesê hy verwag dat Tinder $800 miljoen se inkomste oor die volgende jaar gaan genereer.

Match het dit beskryf as ’n “ongelooflike prestasie”.

Meer oor:  Tinder  |  App  |  Tegnologie  |  Hofgeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.