Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Trump en Huawei: ‘SA kan erg skade ly’

Suid-Afrika se ekonomie kan groot skade ly as die land voldoen aan Amerika se eise om die gebruik van Huawei se tegnologie hier te verbied.

Huawei se stryd met die Amerikaanse regering hou wêreldwyd gevolge vir sy gebruikers in. Foto: Getty Images

Huawei is die wêreld se grootste verskaffer van netwerktoerusting aan die telekommunikasiebedryf en al Suid-Afrika se selfoonnetwerke gebruik Huawei-tegnologie.

Huawei is steeds op die Amerikaanse handelsdepartement se amptelike “swartlys”, al het pres. Donald Trump sy aanvanklike algehele verbod op enige handel met dié maatskappy teruggetrek.

Soos dit nou staan, mag Amerikaanse maatskappye nie Huawei se netwerktegnologie gebruik nie. ’n Paar van Amerika se bondgenote, soos Australië en Japan, het soortgelyke beperkings teen Huawei ingestel, nadat die Amerikaanse intelligensiediens gedreig het om nie intelligensie met lande te deel wat Huawei se netwerktoerusting gebruik nie.

Ander lande, soos Duitsland en Brittanje, weeg steeds die geopolitieke implikasies hiervan op, terwyl lande soos Thailand en Suid-Korea nes Suid-Afrika weier om gehoor te gee aan Amerika se versoeke.

Pres. Cyril Ramaphosa het twee weke gelede Amerika se verbod as blote jaloesie bestempel omdat Huawei glo die res van die wêreld ver voor is met die uitbreiding van 5G-netwerke oor die wêreld heen.

Suid-Afrika sal Huawei ondersteun as die maatskappy help om Suid-Afrika na beter tegnologie te neem – en dit is 5G.
Pres. Cyril Ramaphosa

“Suid-Afrika sal Huawei ondersteun as die maatskappy help om Suid-Afrika na beter tegnologie te neem – en dit is 5G,” het Ramaphosa gesê.

Huawei se betrokkenheid by die ontplooiing van 5G-tegnologie stel die Chinese regering in staat om dié nuwegenerasietegnologie te oorheers.

5G-tegnologie verseker dat data blitsvinnig en koordloos oor die internet gestuur kan word. Dit is onder meer noodsaaklik vir die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie en vir bestuurderlose motors.

Plaaslike selfoonnetwerke het in ’n brief aan Ramaphosa gewaarsku dat dit nadelig vir die ekonomie sal wees as Suid-Afrika Huawei boikot.

Baie van Vodacom, MTN, Cell C en Telkom se netwerke is met Huawei se netwerktoerusting opgerig. Dit verteenwoordig beleggings van miljarde rande.

Huawei verskaf ook netwerktoerusting aan dié operateurs om 5G-netwerke in Suid-Afrika op te rig.

Rain, ’n plaaslike netwerkoperateur wat slegs data kommersieel verkoop, is een van die eerste netwerke ter wêreld wat sy eie 5G-netwerk op die been gebring het met tegnologie wat deur Huawei verskaf is. Rain maak van Huawei se tegnologie gebruik om 5G-dienste op sy bestaande 4G/LTE-netwerk te lewer.

Arthur Goldstuck, tegnologiekenner en besturende direkteur van World Wide Worx, sê die Amerikaners is met rede bekommerd oor China se groeiende rol in wêreldwye telekommunikasienetwerke omdat dit hulle moontlik in staat stel om op lande te spioeneer wat hulle as mededingend beskou.

Hy glo egter nie dat die Amerikaners dit sal regkry om ander lande te keer om met Huawei sake te doen nie. “As die Amerikaners van ons verwag om ons bestaande netwerke af te breek wat miljarde rande gekos het, sal dit as die ergste vorm van imperialisme beskou word. Hulle kan daarom ook nie aan die res van die wêreld voorskryf met wie hulle mag sake doen nie.”

Goldstuck sê plaaslike maatskappye wat sake doen met Amerika, is wel bekommerd oor hoe pres. Trump die kwessie hanteer. “Die Amerikaners is een van ons grootste en belangrikste handelsvennote en ons kan hulle nie bloot ignoreer nie.”

Hy sê Suid-Afrika en ander lande se grootste vrees is dat Trump nie omgee oor die onbedoelde skade wat aangerig sal word as hy sou besluit om lande te boikot wat bande met Huawei het nie.

Lumkile Mondi, senior lektor aan die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskap, sê Suid-Afrika kan erg benadeel word indien hy Amerika omkrap omdat hy toegang tot Amerikaanse markte en landbouprodukte en Agoa (die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede vir Afrika) kan verloor.

Handel tussen Suid-Afrika en Amerika het verlede jaar $18,9 miljard beloop.

Meer oor:  Telkom Mobile  |  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Huawei  |  Telkom  |  Arthur Goldstuck  |  Vsa  |  Breëband  |  Selfoonmaatskappye  |  Data  |  Selfone  |  5G  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.