Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Trump ‘hits geweld aan’ sê Twitter, blok twiet

Twitter het een van pres. Donald Trump van Amerika se onlangse twiets verberg omdat dit glo die platform se reëls oortree.

Die maatskappy het nie die betrokke twiet verwyder nie, maar dit is vervang deur ’n waarskuwing dat die inhoud sy reëls rondom die aanhitsing van geweld oortree.

Volgens Twitter beskou hy dit as “in die openbare belang” en daarom bly die twiet toeganklik, maar verberg.

Grootskaalse gewelddadige betogings is tans ná die dood van George Floyd in Minneapolis in die Amerikaanse deelstaat Minnesota aan die gang.

Floyd, ’n swart Amerikaner, het gesterf nadat hy nie asem kon kry nie toe ’n wit polisieman hom Maandag op die grond met ’n knie op sy keel vasgepen het.

Trump het vroeg Vrydagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in ’n twiet uitgevaar teen die betogers en gesê hy kan nie toelaat dat die geweldpleging in ’n “goeie Amerikaanse stad” voortgaan nie.

Hy blameer die plaaslike leierskap wat hy as “radikaal links” en “swak” beskryf.

In ’n afsonderlike twiet noem Trump die betogers “skurke” en waarsku dat “die skote gaan klap” as die betogers begin om huise en ondernemings te plunder.

Volgens Twitter oortree Trump se twiet sy reëls oor die aanhitsing van geweld.

Dit is die jongste in die vete tussen Trump en Twitter wat nou al ’n paar dae aangaan.

Die sosiale platform het gebruikers vroeër die week gewaarsku om nie alles wat Trump twiet as feitelik korrek te aanvaar nie.

Trump het Twitter (en ander sosialemediaplatforms soos Facebook) daarna van sensuur beskuldig.

LEES OOK: Trump dreig Twitter, Facebook oor 'sensuur'

Hy het Donderdag ’n uitvoerende bevel onderteken wat sosialemediaplatforms moontlik kan blootstel aan vervolging oor wat gebruikers daarop kwytraak.

Trump beskuldig Twitter van partydigheid en sê die platform probeer om sy mond in aanloop tot die Amerikaanse verkiesing in November te snoer.

Twitter het teruggekap en gesê die uitvoerende bevel is “reaktief en polities gemotiveerd”.

Trump steun swaar op Twitter om sy mening regstreeks aan sy ondersteuners (en die res van die wêreld) oor te dra.

Tot dusver het Twitter hom grootliks laat begaan en sy uitlatings op die platform toegelaat, maar dinge het skynbaar nou verander.

Twitter het reeds in 2019 ’n nuwe beleid aangekondig ingevolge waarvan ’n waarskuwing gevoeg gaan word by die twiets van prominente mense wat sy reëls oortree – eerder as om die twiet te verwyder soos wat in die geval van gewone gebruikers gebeur.

Twitter het nog nooit enige van Trump se twiets verwyder of met ’n waarskuwing verberg nie.

Hoewel Vrydag se twiet steeds gelees kan word, word gebruikers eers gewaarsku dat dit die sosiale platform se reëls oortree.

Normaalweg sou Twitter ’n soortgelyke twiet deur ’n nie-prominente persoon verwyder en dalk selfs die gebruiker se rekening tydelik opskort.

Deur slegs ’n waarskuwing by Trump se twiet te voeg, keer Twitter slegs dat dit taamlik maklik gesien kan word, of dat ander gebruikers dit deel.

Wat van Facebook?

Facebook, die wêreld se grootste sosialemediaplatform, het hom grootliks van die debakel tussen Trump en Twitter gedistansieer.

“Ons volg ’n ander beleid as Twitter in dié verband,” het Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof, aan Fox News gesê.

Dis alombekend dat Trump ’n aanhanger van Fox News is.

Hoewel Facebook ook die inhoud van sy gebruikers modereer, is die platform volgens Zuckerberg meer op die gebruikers se reg op vryheid van spraak ingestel.

Facebook gaan byvoorbeeld nie die feitelikheid van prominente politici se plasings na nie.

Joe Biden van die Demokratiese party het voorheen al gesê dat Facebook se beleid die aanlyn verspreiding van “leuens” toelaat.

Facebook gebruik derde partye, veral nuusorganisasies soos Reuters, om die feitelikheid van die inhoud na te gaan.

Die oorspronklike twiet wat Trump en Twitter aan mekaar laat spring het, was sy bewering dat stemming per pos “in wese bedrieglik is”.

Hy het dieselfde uitlating op Facebook gemaak, maar dié platform het dit nie verwyder of as moontlik misleidend of onwaar uitgewys nie.

Meer oor:  Twitter  |  Facebook  |  George Floyd  |  Donald Trump  |  Sensuur  |  Sosiale Media  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.