Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Trump se TikTok-verbod óók tersyde gestel

’n Amerikaanse hof het pres. Donald Trump se verbod op TikTok in die land ter elfder ure tydelik tersyde gestel voordat dit deurgevoer kon word.

Regter Carl Nichols het Sondagoggend in ’n ongewone sitting ’n voorlopige bevel toegestaan teen die verbod wat Amerikaners van Sondag om middernag sou verbied om die TikTok-app vanaf Google Play- of die Apple-winkel af te laai.

Nichols het egter geweier om ’n bevel toe te staan op ’n afsonderlike verbod wat op 12 November die gebruik van TikTok verder in die VSA gaan beperk.

ByteDance, die Chinese eienaar van TikTok, het aansoek gedoen om die bevel nadat Trump vroeër beveel het dat Amerikaanse app-winkels die TikTok-app verbied tensy die maatskappy ’n deel van sy Amerikaanse bedrywighede aan ’n plaaslike koper verkoop.

Die verbod sou die TikTok-app uit Google en Apple se app-winkels verwyder.

Mense wat nie reeds die app afgelaai het nie, sou dit ook nie kon doen nie. En diegene wat dit reeds afgelaai het, sou nie nuwe bywerkings ontvang nie.

TikTok is reeds meer as 100 miljoen keer in Amerika afgelaai.

“Ons is bly die hof het ons regsargumente aanvaar en ’n bevel uitgereik wat die implementering van die verbod op TikTok se app verhinder,” het ByteDance in ’n verklaring gesê.

Die verbod op TikTok in Amerika is tydelik tersyde gestel. Foto: Reuters

“Ons sal voortgaan om ons regte tot voordeel van ons gemeenskap en werknemers te verdedig. Terselfdertyd sal ons ook gesprekke met die regering voortsit oor ons voorstel waartoe die president verlede week ingestem het.”

Dié voorstel is dat ByteDance ’n deel van sy Amerikaanse bedrywighede aan Oracle en Walmart verkoop. Dié transaksie moet, kragtens Trump se bevel, voor 12 November beklink word.

Onderhandelinge tussen die partye duur nog voort.

Dit is die tweede uitspraak teen die Trump-regering se pogings om gewilde Chinese apps in die VSA te probeer keer.

Trump wil TikTok sowel as WeChat in Amerika verbied.

WeChat, wat onder meer gebruik word om op te klets en betalings te maak, behoort aan die Chinese internetreus Tencent.

Gebruikers van WeChat het verlede week ook ’n hofbevel bekom wat die verbod op die aflaai en gebruik van die app in Amerika vir eers tersyde stel.

LEES OOK: WeChat probeer nog tyd wen in VSA

In daardie saak het die regter beslis die verbod maak inbreuk op Amerikaners se reg op vryheid van spraak en hul reg om die app te gebruik.

Sondag se bevel rakende TikTok is nie openbaar gemaak nie, wat beteken die redes vir Nichols se beslissing is nog onbekend.

Sy bevindings kan dalk Maandag bekend gemaak word, tensy die partye redes verskaf waarom dit nie moet gebeur nie. – Bloomberg, verkort

Meer oor:  Bytedance  |  Donald  |  Trump  |  Sosiale Media  |  Wechat  |  Tegnologie  |  Tiktok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.