Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Trump se Twitter-wagwoord glo ‘maga2020!’

’n Navorser op die gebied van kuberveiligheid beweer hy het toegang tot pres. Donald Trump se Twitter-rekening verkry deur “maga2020!” as wagwoord te gebruik.

Pres. Donald Trump Foto: Getty Images

“Maga” is ’n afkorting vir “Make America Great Again”, die slagspreuk van Trump se verkiesingsveldtog in 2016.

Pres. Ronald Reagan en pres. Bill Clinton het self weergawes van dié slagspreuk in hul onderskeie verkiesingsveldtogte in 1980 en 1992 gebruik.

Skermgrepe van Victor Gevers, die vermeende kraker van Trump se Twitter-rekening, se wandade is deur die Nederlandse tydskrif Vrij Nederland gepubliseer.

Twitter sowel as die Withuis ontken dit dat enigiemand onregmatige toegang tot Trump se rekening verkry het.

“Ons sien geen bewyse wat Gevers se bewerings staaf nie,” het ’n woordvoerder van Twitter aan The Verge gesê. 

Die maatskappy sê voorts hy het “proaktief” bykomende veiligheidsmaatreëls op sommige rekeninge, insluitende dié van Trump, ingestel juis om onregmatige toegang daartoe te stuit. Dit is nie bekend wat hierdie bykomende maatreëls is nie. 

Vrij Nederland het verlede maand berig Gevers het met die hulp van twee ander kuberkrakers ook in Oktober 2016 toegang tot Trump se Twitter-rekening gekry. 

Volgens die tydskrif wou Gevers nou op die vooraand van die Amerikaanse verkiesing kyk of hy steeds op dieselfde wyse Trump se Twitter-rekening kon binnedring. Trump se destydse wagwoord, “yourefired”, het nie meer gewerk nie, het Gevers gesê. Hy het wel bevind Trump se rekening word steeds nie met tweeledige verifikasie beveilig nie. 

Hy het ’n handvol ander wagwoorde probeer voordat hy met die vyfde probeerslag toegang verkry het deur die wagwoord “maga2020!” te gebruik. 

Die Withuis het die beweerde indringing ontken, maar bygevoeg hy gaan nie kommentaar lewer oor sekerheidskwessies rakende die president se sosiale media nie.

Vrij Nederland beweer voorts dit was Gevers wat ’n satiriese artikel op Trump se Twitter-rekening gedeel het, in stede van die president self. Trump se rekening het verlede Vrydag ’n artikel van die satiriese nuusblad Babylon Bee geplaas waarin daar spottenderwys gesê is Twitter het sy stelsels doelbewus van lyn af gehaal om te keer dat ’n negatiewe artikel oor sy opponent in die verkiesing, Joe Biden, op die platform geplaas word. 

Twitter se stelsels was verlede week kortstondig van lyn af. Die probleme het egter niks te make gehad met die artikel waarna Babylon Bee verwys nie. 

Volgens Gevers het hy reeds telkemale Trump probeer kontak oor die kwesbaarheid van sy Twitter-rekening, maar sonder sukses. Trump se rekening is wel in 2013 deur kuberkrakers binnegedring.

Die aanvallers het toe “These hoes think they classy, well that’s the class I’m skippen” van sy rekening af getwiet.  

Trump het toe net meer as twee miljoen volgelinge gehad; hy het nou meer as 87 miljoen. Pres. Barack Obama het die meeste volgelinge van enigiemand op Twitter, naamlik 124 miljoen.

Meer oor:  Trump  |  Donald  |  Kuberaanval  |  Sosiale Media  |  Twitter  |  Kuberkraker  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.