Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Trump verlig sanksies teen Huawei

Mense met ’n Huawei kan ’n sug van verligting slaak: Pres. Donald Trump het pas beperkinge op dié prominente tegnologiemaatskappy as deel van ’n handelsooreenkoms met Beijing verslap.

Kortom het Trump die beperking dat Amerikaanse maatskappye nie meer met Huawei mag sake doen nie, geskrap.

Trump het dié verbod aanvanklik in Mei aangekondig, wat tot grootskaalse paniek onder Huawei-gebruikers gelei het, ook in Suid-Afrika.

In ruil vir die konsessie het Trump gesê pres. Xi Jinping van China het belowe om ’n “ontsaglike” groot hoeveelheid Amerikaanse landbouprodukte in ruil aan te koop.

“Ons gaan vir hulle ’n lys van goedere gee wat ons wil hê hulle moet koop,” het Trump tydens ’n nuuskonferensie ná afloop van besprekings tydens die G20-beraad in Osaka, Japan, gesê.

Die verbod op Huawei het reeds dié selfoonreus se verkope ’n lelike knou gegee met gebruikers wat vrees dat die toestelle eersdaags sou ophou funksioneer soos normaal.

Prominente maatskappye soos Google en Facebook is effektief gedwing om bande met Huawei te sny, wat verreikende gevolge ingehou het.

Huawei sou byvoorbeeld toegang tot die Android-bedryfstelsel weens die verbod verloor het, siende dat dit deur Google besit en bedryf word.

Hoewel Trump se verbod op Huawei aanvanklik deel was van die groter handelsoorlog wat steeds tussen Amerika en China woed, is kwessies rakende sekuriteit ook dikwels geopper. Trump beskuldig Huawei daarvan dat hy namens die Chinese regering op Amerikaanse burgers spioeneer; die maatskappy het dit al herhaaldelik ontken.

Tydens die nuuskonferensie by die G20-beraad het Trump gesê hy sal Amerikaanse maatskappye toelaat om steeds toerusting en programmatuur aan Huawei te verkoop, solank die verkoop daarvan nie ’n nasionale sekuriteitsprobleem inhou nie.

Die Amerikaanse president het egter ook gesê hy is nog nie heeltemal seker hoe om die “Huawei-kwessie” te hanteer nie, en dat verdere besprekinge met China se president daaroor nog moet plaasvind.

Trump se aankondiging beteken byvoorbeeld nie dat Huawei dadelik van die Amerikaanse handelsdepartement se sogenaamde “swartlys” van maatskappye verwyder gaan word nie.

Dié lys bevat die name van maatskappye wat nie welkom is in Amerika nie weens ’n verskeidenheid kwessies, waaronder sekuriteitsrisiko’s.

Sou Amerikaanse maatskappye later weer verbied word om met Huawei sake te doen – ’n stap wat beslis steeds moontlik is – kan dit hierdie maatskappye verder ontsenu siende dat daar reeds kommer weens moontlike werkverliese was aangesien maatskappye soos Google en Facebook ook ’n belangrike handelsvennoot in Huawei verloor.

Volgens Trump is die Huawei-saak “kompleks” en moet dit met die nodige omsigtigheid hanteer word.

Maar vir nou lyk dit nie of die beplande verbod soos aanvanklik beplan in Augustus in werking gaan tree nie.

Meer oor:  Huawei  |  Slimfoon  |  Tegnologie  |  Selfone  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.