Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
TV-lisensie jou voorland – al kyk jy nét Netflix

Die SAUK het Dinsdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie voorgestel verskaffers van betaaltelevisiedienste, insluitende DStv maar ook Netflix, moet begin om lisensiegelde namens die openbare uitsaaier van kykers te verhaal.

televisie, dstv, multichoice
Die SAUK voer aan die “huidige definisie” van ’n TV-lisensie is verouderd en moet aangepas word “vir die huidige realiteit”. Foto: Unsplash

Dit is deel van die SAUK se voortgesette plan om meer inkomste te genereer.

In die voorlegging het die uitsaaier uitgestippel watter huidige regulasies sy vermoë belemmer om ’n volhoubare inkomste te genereer, insluitende regulasies rakende die betaal van TV-lisensies.

Die voorstel is dat MultiChoice en Netflix lisensiegelde namens die SAUK invorder “net soos wat munisipaliteite verkeersboetes en gelde vir lisensieskywe van motoriste invorder”.

Die SAUK voer ook aan die “huidige definisie” van ’n TV-lisensie is verouderd en moet aangepas word “vir die huidige realiteit”.

Sou die beplande wysigings uiteindelik deurgevoer word, sal intekenare van stromingsdienste soos Netflix en Showmax vir ’n TV-lisensie moet betaal, al besit hulle nie eens ’n televisie nie.

Selfs al word daar net na inhoud op ’n skootrekenaar, tablet of selfoon gekyk, sal kykers die lisensiegelde moet betaal.

Daar is geen melding gemaak van hoeveel die SAUK hoop om per kyker per jaar so in te samel nie.

Die SAUK beskou die wysiging van die bestaande regulasies rakende TV-lisensies as ’n prioriteit en het die parlement se portefeuljekomitee gevra om dringend daaraan aandag te skenk.

Die openbare uitsaaier het in September aan dieselfde komitee gesê sy vermoë om lisensiegelde van kykers in te voerder, is noemenswaardig deur die koronaviruspandemie geraak.

Dit is hoofsaaklik omdat kykers dit doodeenvoudig nie kan bekostig nie.

Teen die einde van Julie was die SAUK se inkomste uit die betaal van TV-lisensies 37% laer as waarop hy in sy begroting gehoop het.

In die vier maande van 1 April (die begin van sy boekjaar) tot aan die einde van Julie het die SAUK net meer as R136 miljoen in kontant ingesamel vir TV-lisensies.

Hy het egter vir meer as R216 miljoen begroot.

Sy skuldinvorderaars kon ook tot einde Julie net sowat R68 miljoen van die R143 miljoen waarop die SAUK in sy begroting gehoop het, in agterstallige lisensiegelde insamel.

Regulasies rakende TV-lisensies in Suid-Afrika is laas in 2004 gewysig.

’n TV-lisensie kos tans R265 per jaar.

Meer oor:  Dstv  |  Netflix  |  Sauk  |  Multichoice  |  Tegnologie  |  Tv-Lisensie  |  Televisie  |  Betaaltelevisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.