Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Twitter se twiete het nuwe tintel
Twitter het sy voorkoms op ’n rekenaar vir die eerste keer in sewe jaar gewysig. Foto: Unsplash

Twitter het ’n gedaanteverwisseling ondergaan, en nie almal is eweneens opgewonde daaroor nie.

Dié sosiale netwerk, met sy betreklik min gebruikers vergelyke met byvoorbeeld Facebook en Instagram, het sy uitleg op ’n webblaaier heeltemal gewysig.

Die veranderinge, wat nuwe kortpadskakels en ’n gewysigde nuusstroom insluit, geld nie Twitter se mobiele app nie.

In ’n verklaring op sy korporatiewe blog sê Twitter die veranderinge is aangebring om gebruikers se ervaring “vinniger” en “makliker” te maak.

Volgens Twitter is die inhoud wat gebruikers nou sien, ook meer verpersoonlik as ooit tevore.

So wat is anders?

Eerstens lyk die uitleg van die “nuwe” Twitter heeltemal anders. Dit het ’n moderner voorkoms, maar kom ook besiger voor as die vorige ontwerp.

Daar is nou heelwat meer skakels na verskillende dele van die platform, soos jou profiel, lyste en dies meer op jou tuisskerm.

Onderwerpe wat tans aandag op Twitter geniet verskyn nou aan die regterkant van die skerm (dit was altyd links).

Jy kan nou ook Twitter na ’n sogenaamde “donker-modus” oorskakel, wat beteken die skrif sal wit op swart, in stede van swart op wit verskyn.

Dit is om jou oë te beskerm as jy in ’n donker vertrek twiet.

Die uitleg op ’n rekenaar lyk nou heeltemal anders as tevore. Foto: Twitter

Dit is die eerste keer in minstens sewe jaar dat Twitter sy voorkoms noemenswaardig verander.

Die vars voorkoms is tot dusver kil ontvang, maar dit was te wagte.

Soortgelyke veranderinge aan platforms soos Snapchat en Instagram is ook met heftige teenkanting begroet, maar die skeppers van dié platforms het voet by stuk gehou en vandag is dié veranderinge die nuwe normaal.

Een van die grootste funksies waarna Twitter-gebruikers al jare smag, is steeds nie beskikbaar nie, naamlik die vermoë om ’n twiet te wysig nadat jy dit gedeel het.

Hoewel Twitter deeglik bewus is dat gebruikers só ’n funksie verlang, sê die maatskappy dit sal die integriteit van sy platform in gedrang bring siende dat ’n twiet juis ’n opinie of uitlating verteenwoordig wat jy in die oomblik wil deel.

Die “nuwe” Twitter is van vandeesweek af beskikbaar en word gaandeweg na al Twitter se sowat 320 miljoen maandelikse gebruikers uitgebrei.

Meer oor:  Twitter  |  Tegnologie  |  Internet  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.