Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Twitter snoer weer uitlating uit Trump-kamp

Die rusie tussen Amerika se pres. Donald Trump en Twitter duur voort.

Die sosialemediaplatform het Sondag ’n twiet van een van Trump se mediese raadgewers verwyder wat sê die dra van ’n gesigmasker help nie om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan nie.

“Masks work? No,” het Scott Atlas in sy oorspronklike twiet geskryf wat intussen verwyder is.

Die twiet het ook ’n skakel bevat na ’n artikel deur die Amerikaanse instituut vir ekonomiese navorsing wat aanvoer maskers is ondoeltreffend.

Twitter het bevind die plasing is strydig met sy reëls teen die deel van skadelike en vals inligting.

Trump self het gereeld die doeltreffendheid van maskers in die openbaar onderspeel totdat hy self die virussiekte gekry het.

Gesondheidskenners, insluitend dr. Anthony Fauci, Amerika se voorste kenner van aansteeklike siektes, het al gesê die dra van ’n gesigmasker dra by tot die verminderde verspreiding van die koronavirus wat reeds die lewe van bykans 220 000 Amerikaners geëis het.

Die verwydering van Atlas se twiet kom kort nadat Twitter verlede week ook aanvanklik perke geplaas het op die verspreiding van ’n skakel na ’n storie op die webtuiste van die New York Post oor Hunter Biden, seun van die Demokratiese presidentskandidaat Joe Biden.

Twitter het aanvanklik gebruikers verbied om skakels na die berig te deel, kwansuis omrede dit sy beleid rakende die verspreiding van inligting wat op ’n onwettige wyse verkry is, oortree.

Die artikel bevat wat die dagblad beweer is private e-posse tussen Hunter en mense in Oekraïne met wie hy sake gedoen het.

Jack Dorsey, die uitvoerende hoof van Twitter, het Vrydag gesê dis “verkeerd” om webskakels net te verbied.

Donald Trump haal sy masker af tydens die presidensiële debat vroeër vandeesmaand. Foto: Getty Images

Vijaya Gadde, hoof van beleid by Twitter, het Donderdag gesê die maatskappy het besluit om tog maar die deel van die skakel na die artikel toe te laat nadat dit terugvoering van sy gebruikers in ag geneem het.

Die reël sentraal tot die hele saak is dat Twitter nie die deel van private inligting toelaat wat op ’n onregmatige wyse verkry is nie. Hy beskou die e-posgesprekke in die New York Post se artikel as verkry deur kuberkrakers en daarom het hy dit verbied.

Gadde het egter Donderdag gesê die maatskappy gaan sy beleid aanpas en net inhoud verwyder wat regstreeks deur kuberkrakers gedeel is, of deur diegene wat met hulle saamwerk.

Twitter het ook verlede Sondag ’n inskrywing van Trump as moontlik misleidend uitgelig waarin hy beweer het hy is nou immuun teen die koronavirus.

Nes Atlas se twiet het Twitter gesê dit oortree die platform se reëls oor die verspreiding van misleidende en moontlik skadelike inligting met betrekking tot die koronaviruspandemie.

Waar Atlas se twiet heeltemal verwyder is, is Trump s’n verskadu agter ’n vrywaring wat gebruikers waarsku die inhoud is moontlik misleidend.

Trump het nie self Atlas se twiet oor maskers gedeel nie.

LEES OOK: Trump se 'immuniteit' misleidend, sê Twitter

Atlas het in Augustus by die Withuis se taakmag teen die koronaviruspandemie aangesluit.

Voor sy aansluiting by die taakmag het Atlas gereeld op Fox News verskyn waar hy sy siening oor die virus uitgespreek het en aangevoer het dit hou nie juis ’n risiko in vir enigiemand behalwe ouer en verswakte mense nie.

Fauci is ook deel van die taakmag.

Trump het egter in April laas ’n mediakonferensie saam met die taakmag gehou en het aan die einde van Julie laas saam met Fauci in die openbaar verskyn.

Atlas het Robert Redfield, die direkteur van Amerika se sentrums vir siektebeheer-en-voorkoming, in September gekritiseer nadat hy gesê het 90% van Amerikaners is kwesbaar vir die virus.

Fauci het vir Redfield in die bres getree en gesê Atlas “is geneig om data te kies” soos dit hom pas.

Atlas word gereeld in die Withuis gesien waar hy sonder ’n masker rondloop.

Selfs nadat Trump, sy vrou, Melania, sy seun Barron en verskeie ander assistente positief vir die koronavirus getoets is, het die reëls rakende die dra van maskers in die Withuis nie juis verander nie. – Bloomberg, Reuters en ander bronne

Meer oor:  Twitter  |  Donald Trump  |  Scott Atlas  |  Tegnologie  |  Vals Nuus  |  Sensuur  |  Sosiale Media  |  Fopnuus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.