Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Tydelike verligting vir diegene met ’n Huawei

Die Amerikaanse departement van handel het Huawei begenadig en die handelsbeperkings op die Chinese slimfoonvervaardiger tydelik uitgestel.

Pres. Donald Trump het verlede week opdrag gegee dat Amerikaanse maatskappye nie sonder toestemming van die regering enige programmatuur of apparatuur aan Huawei mag verskaf nie.

Verskeie van Huawei se grootste verskaffers, waaronder Google, Intel en Qualcomm, het reeds aangedui dat hulle aan die opdrag gehoor gaan gee.

Lees ook: Google op Huawei-fone verbied: Hoe raak dit jou?

Volgens Reuters het die handelsdepartement egter nou besluit om die verbod met drie maande uit te stel sodat Huawei sy sake kan uitsorteer.

Dit beteken gebruikers van Huawei-fone sal tot minstens 19 Augustus steeds belangrike bywerkings van die Android-bedryfstelsel vanaf Google ontvang.

Dit geld wel net vir toestelle wat voor of op 16 Mei aangeskaf is. Enige toestel wat daarna gekoop is, word klaar nie meer ondersteun nie.

Weens die verbod mag Google nie meer sy sagteware of enige van sy apps aan Huawei verkoop nie. Dit sluit in die Android-bedryfstelsel wat Google besit.

Huawei se stryd met die Amerikaanse regering hou wêreldwyd gevolge vir sy gebruikers in. Foto: Getty Images

Die verbod is ’n groot terugslag vir Huawei sowel as Google aangesien die Chinese maatskappy die tweede grootste vervaardiger van slimfone ter wêreld is.

Die toestelle van miljoene van Huawei se gebruikers sal in die nabye toekoms nie meer toegang tot van Google se gewildste dienste en apps, soos YouTube, Maps, Gmail en die Play Store, hê nie.

Huawei se nuwe fone sal ook nie die jongste weergawe van Android bevat nie, aangesien Google dit nie meer aan die maatskappy mag verkoop nie.

Bywerkings aan die bedryfstelsel sal ook ná 16 Augustus nie meer aan bestaande Huawei-fone verskaf mag word nie.

Huawei het wel die versekering gegee dat hy steeds alle bestaande Huawei-produkte met die nodige programmatuur sal beskerm, hoewel dit nog onduidelik is hoe hy beplan om dit te doen.

Huawei ‘was gereed hiervoor’

Ren Zhengfei, stigter van Huawei, het Dinsdag in ’n televisie-onderhoud in China gesê die maatskappy het die stap van die Amerikaanse regering voorsien en derhalwe reeds gebeurlikheidsplanne in plek gestel.

“Die Amerikaanse regering onderskat ons vermoëns,” het hy gesê.

Volgens Ren is Huawei in ’n stryd gewikkel met die Amerikaanse regering, en nie met Amerikaanse ondernemings nie. Huawei is in staat om self die apparatuur te vervaardig wat hy tot nou toe van Amerika af ingevoer het, maar dit beteken nie noodwendig hy wil ophou om sake met hierdie ondernemings te doen nie.

Die Amerikaanse regering beskuldig Huawei van spioenasie namens die Chinese regering en ook dat die maatskappy Amerikaanse sanksies teen Iran probeer systap.

Huawei het die bewerings telkemale ontken.

Lees ook: Huawei P30 Pro: Bonatuurlike kamera wat kan bel

Die maatskappy het luidens sy jaarstate $11 miljard in 2018 aan toerusting uit Amerika bestee, insluitend skyfies van Qualcomm, Intel en Micron.

Gelukkig vir Huawei word die meeste van Google se produkte reeds in China verbied. Dit beteken die maatskappy het waarskynlik reeds heelparty alternatiewe produkte en dienste beskikbaar om sy gebruikers daar te bedien.

Dit sluit in WeChat eerder as Gmail, Baidu eerder as Google Maps en Youku eerder as YouTube.

Hierdie apps is wel spesifiek gemik op Chinese gebruikers, wat beteken dit sal nie noodwendig so gewild wees onder eienaars van Huawei elders in die wêreld nie.

Meer oor:  Google  |  Huawei  |  Slimfone  |  Tegnologie  |  Verbod  |  Apps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.