Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Uber dank kwart van sy werkers af

Uber gaan bykans ’n kwart van sy internasionale arbeidsmag aflê in ’n poging om te midde van die Covid-19-pandemie kop bo water te hou.

Volgens ’n woordvoerder van Uber in Suid-Afrika raak die afleggings sy bedrywighede in meer as 50 lande, hoewel sy nie spesifiek wou sê hoeveel van sy werkers hier geraak word nie.

Bestuurders en afleweraars word wel nie deur die afleggings geraak nie aangesien hulle as kontrakwerkers optree.

Dara Khosrowshahi, uitvoerende hoof van Uber, het Maandag in ’n e-pos aan werknemers gesê 3 000 personeellede word afgelê “as ’n regstreekse gevolg van die pandemie”.

Dit volg op die 3 700 poste wat reeds op 6 Mei gesny is.

In totaal het 6 700 mense dus hul werk by die tegnologiemaatskappy verloor sedert die koronavirussiekte begin amok saai het onder ondernemings wêreldwyd.

Die jongste ronde afleggings is by “die meeste afdelings en streke wêreldwyd,” sê die Suid-Afrikaanse woordvoerder.

Uber het sowat 25% van sy werkers in Mei afgedank – volgens hom ’n regstreekse gevolg van die Covid-19-pandemie.Foto: Getty Images

Verskillende streke word verskillend geraak, sê sy. Afleggings sal ook geskied onderhewig aan plaaslike regulasies en konsultasies met die betrokke personeel.

Veral personeel in sy afdelings vir kliëntediens en die werwing van nuwe personeel word geraak.

Volgens Khosrowshahi gaan Uber nou uitsluitlik fokus op sy kernbedryf, naamlik elektroniese taxidienste en kosaflewering.

“Ons pas die grootte van die maatskappy aan by die werklikhede van ons bedrywighede,” sê hy.

Khosrowshahi sê die maatskappy neem nou “hierdie moeilike besluite sodat ons kan aanbeweeg en met selfvertroue begin herbou”.

Volgens die maatskappy se resultate vir die jaar tot einde Desember het Uber 28 600 mense in diens gehad.

Uber het in die drie maande tot einde Desember ’n netto verlies van $1,1 miljard aangeteken en gesê hy hoop om teen die einde van die jaar winsgewend te wees.

Die kans is nou skraal dat dit gaan gebeur.

Lyft, Uber se grootste mededinger in die VSA, het ook 17% van sy arbeidsmag afgedank.

Uber in Suid-Afrika het verlede week aangekondig alle bestuurders en afleweraars sal voortaan ’n selfie moet indien wat wys hulle dra ’n masker alvorens hulle kan begin werk.

Dit is deel van die maatskappy se poging om sy dienste so veilig moontlik te hou.

App-gegronde taxidienste mag tydens die staat van inperking sake doen, maar onderhewig aan streng veiligheidsmaatreëls.

Meer oor:  Uber  |  Afleggings  |  Covid-19  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.