Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Uber en slagoffer se familie het klaar geskik
Die selfryvoertuig van Uber wat Elaine Herzberg doodgery het. Foto: Reuters

Elaine Herzberg het haar lewe skaars twee weke gelede verloor, maar haar familie het reeds met Uber, die maatskappy wat na bewering vir haar dood verantwoordelik is, geskik.

Herzberg is vroeër vandeesmaand deur ’n selfry-Uber-motor doodgery terwyl sy oor ’n besige hoofweg in Tempe, Arizona, gestap het.

Volgens Cristina Perez Hesano, ’n prokureur van Glendale, Arizona, is die saak tussen Uber en Herzberg se dogter en haar man “opgelos”.

Die voorwaardes van die ooreenkoms is nie bekend gemaak nie. Die firma wat die Herzberg-familie verteenwoordig, het gesê hulle sal geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie en beskou dit as afgehandel. Die name van Herzberg se man en dogter is nie bekend gemaak nie.

Al beskik dié ontluikende selfry-tegnologie oor die moontlikheid om noodlottige ongelukke op paaie aansienlik te verminder, sal hierdie ongeluk die verdere ontwikkeling daarvan knou. Die motors word juis so ontwerp om vinniger as menslike bestuurders te reageer en ongelukke te voorkom.

Uber het vir eers die toets van sy selfryvoertuie opgeskort. Toyota en die skyfievervaardiger Nvidia het ook toetslopies van hul outomatiese voertuie op openbare paaie gestaak in afwagting op ’n amptelike verslag van wat presies in die ongeluk in Tempe gebeur het.

Dit is sover bekend die eerste voorval waarin ’n outomatiese voertuig ’n voetganger se dood veroorsaak het.

Die noodlottige ongeluk skep ook ’n ongekende uitdaging wat aanspreeklikheid betref. Nie net word selfryvoertuie per definisie nie deur iemand bestuur nie, boonop word die komplekse sagte- en hardeware wat dalk foutief kon wees deur verskeie maatskappye vervaardig.

Herzberg het oor ’n besige vierbaan-pad in Tempe gestap toe die Uber-voertuig haar tref.

’n Video van die voorval wys hoe sy skielik uit die donker bosse langs die pad voor die motor instap. Hoewel daar ten tye van die ongeluk iemand agter die sportnutsvoertuig se stuur was, het sy volgens die beeldmateriaal in die motor nie aandag aan die pad voor haar geskenk nie. – Reuters, verwerk

Meer oor:  Uber  |  Skikkingsooreenkoms  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.