Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Uber se verlies beloop steeds meer as $1 mjd.
Uber is met miljoene in die rooi. Foto: Getty Images

Uber se verlies oor die wêreld heen vir die afgelope drie maande beloop ’n massiewe $1,07 miljard, al het die aantal besprekings vir taxi’s en kosaflewerings met 6% toegeneem.

Die maatskappy het Woensdag sy jongste kwartaalverslag uitgereik. Daarvolgens het sy verliese met 20% gestyg vergelyke met die vorige kwartaal. Dit is wel 27% minder as dieselfde tydstip ’n jaar gelede toe Uber sy swakste kwartaal tot dusver beleef het kort ná die bedanking van Travis Kalanick, sy vorige hoof en medestigter.

Sedert die aanstelling van Dara Khosrowshahi in dié posisie het Uber begin om aggressief uit te brei op die gebied van vragvervoer, kosaflewering, bromponies en elektriese fietse.

Dié stappe word hoofsaaklik gedoen omdat groei in die aantal besprekings vir saamrygeleenthede begin verlangsaam het en Uber desperaat na ander inkomstestrome begin soek het.

Uber, wat tans sowat $76 miljard werd is, probeer ook beleggers paai op die vooraand van sy beplande notering vroeg aanstaande jaar deur te wys dat hy sterk op pad is na winsgewendheid.

“Ons het nog ’n stewige kwartaal vir ’n onderneming van ons omvang beleef,” het Nelson Chai, finansiële hoof, kort na die uitreiking van die kwartaalsyfers gesê. Chai is in September aangestel nadat die pos wat hy tans beklee vir drie jaar vakant was.

Hy het die “massiewe potensiaal” van die Indiese mark benadruk waar Uber steeds besig is om sy “posisie as markleier te versterk”.

Maar breër ekonomiese druk en volgehoue verliese kan Uber dalk dwing om met sy mededingers in Indië en die Midde-Ooste saam te smelt, veral omdat die SoftBank Group in sowel Uber as die Indiese taxidiens Ola belê het.

Uber het ’n bruto inkomste van $12,7 miljard in die tydperk onder oorsig uit besprekings verdien, 41% meer as ’n jaar gelede, en 6% meer as verlede kwartaal. Die gewilde taxidiens se aantal besprekings het verlede jaar nog kwartaalliks met meer as 10% gegroei, maar sedert die begin van die jaar tot onder dié syfer verlangsaam.

As ongenoteerde maatskappy word Uber nie verplig om sy finansiële state bekend te maak nie, maar hy verkies sedert verlede jaar om dit wel te doen. – Reuters, verwerk

Meer oor:  Uber  |  Verliese  |  Taxidiens  |  App  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.