Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Uiteindelik ’n wet wat jou inligting beskerm

Verbruikers kan nou siviele eise instel as hulle skade ly omdat ’n maatskappy of organisasie hul persoonlike inligting misbruik of hulle nie behoorlik teen kuberkrakers beskerm het nie.

Photo by Glenn Carstens-Peters on Unsplash
Suid-Afrikaners het uiteindelik die nodige beskerming teen die ongemagtigde gebruik en verkoop van hul persoonlike inligting. Foto: Unsplash.

Dis ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia), wat uiteindelik op 1 Julie in werking getree het. Instansies het wel 12 maande grasie om alles reg te kry om aan die wetsvereistes te voldoen.

Dr. Danie Strachan, ’n vennoot by die regsfirma Adams & Adams, sê dis ’n vreemde situasie, want al sal verbruikers by die Inligtingsreguleerder (IR) kan kla en sake aanhangig maak, beteken dit oortreders sal waarskynlik vir die volgende jaar net op die vingers getik kan word. Oortreders kan administratiewe boetes van tot R10 miljoen, maksimum tronkstraf van tien jaar of ’n boete plus tronkstraf kry.

Nadine Mather, ’n senior assosiaat by Bowmans, sê kragtens Popia moet ondernemings en organisasies die IR en die betrokke verbruiker inlig as vermoed word persoonlike inligting het uitgelek of is onregmatig bekom. As ’n verbruiker nie ingelig word nie, maar glo sy inligting het uitgelek, kan die IR help om dit te ondersoek, sê sy.

Strachan sê klagtes by die IR sal die verbruikers niks kos nie, maar in siviele eise sal die bewyslas van waar, hoe of deur wie die inligting uitgelek is moeilik wees.

Volgens Mather kan die IR op versoek van ’n individu ’n siviele eis aanhangig maak vir skade gely weens enige oortreding van die wet – of dit nou weens opset of nalatigheid was. In só ’n geval kan die hof ’n bedrag aan die individu toeken wat skadevergoeding, rente en koste kan insluit. Die IR sal die koste dra en kan daarvoor vergoed word as die hof in sy guns beslis.

Francois Quintin Cilliers, ’n dosent in kommersiële reg aan die Universiteit van die Vrystaat, skryf in ’n artikel die wet gee Suid-Afrikaners uiteindelik die nodige beskerming teen die ongemagtigde gebruik en verkoop van hul persoonlike inligting.

Die wet stel streng vereistes vir die insameling, gebruik, berging en vernietiging van persoonlike inligting. Die een wie se persoonlike inligting iewers gehou word, het die reg:

  • Tot toegang tot die inligting;
  • Om ingelig te word as iemand die inligting insamel of toegang daartoe verkry;
  • Om verkeerde of verouderde inligting te laat regstel of vernietig; en
  • Om beswaar te maak teen enige ongemagtigde gebruik van persoonlike inligting.

Cillliers voeg by die verwerking van kinders se persoonlike inligting word verbied, tensy die wet dit vereis, dit met die toestemming van ’n ouer of wetlike versorger ingesamel word, dit in die openbare belang is of gebruik word vir statistiese, historiese of navorsingsdoeleindes sonder om die kind se privaatheid te raak.

Die wet sluit verskeie tipes inligting in by persoonlike inligting. Dit wissel van ’n ID-nommer en adres tot biometriese inligting en persoonlike menings.

Cilliers waarsku egter enige inligting wat op sosiale media gedeel word, word as ’n publikasie beskou en sal in die algemeen nie ingevolge Popia beskerming geniet nie.

Regstreekse bemarking

Vir baie verbruikers is ongevraagde, regstreekse bemarking ’n doring in die vlees. Instellings wat jou verpes, kan ook by die IR verkla word as hulle die wet oortree.

Mather sê nie alle regstreekse bemarking is onwettig kragtens Popia nie. Die wet reguleer regstreekse bemarking in die vorm van ongevraagde, elektroniese kommunikasie en sluit robot-oproepe, SMS’e en e-posboodskappe in.

Kragtens Popia moet jy instem om wel die bemarkingsmateriaal via elektroniese kommunikasie te ontvang (“opt in”), maar daar is sekere uitsonderings ten opsigte van bestaande kliënte.

Strachan verduidelik ’n organisasie mag ’n individu een keer ongevraagd nader om dié toestemming te verkry. Hy meen egter die vorm wat verbruikers moet invul om toestemming te gee, kan gebruiksvriendeliker wees omdat talle maatskappye en werkers deur regstreekse bemarking hul geld verdien.

As jy byvoorbeeld nie ’n slimfoon het nie, sal jy die vorm nie elektronies kan invul en terugstuur nie.

Tot dusver het die Verbruikersbeskermingswet en ander wetgewing ’n benadering geskep dat die verbruiker die bemarkingsmateriaal ontvang totdat hy aandui hy wil dit nié ontvang nie (“opt out”) en waarin ’n onderneming nie éérs ’n individu se toestemming vir regstreekse bemarking gevra het nie.

Volgens Mather sal die “opt out”-benadering van die Verbruikersbeskermingswet steeds van toepassing wees op regstreekse bemarking via pos en lukrake oproepe (cold calls).

Meer oor:  Internet  |  Kuberaanval  |  Data  |  Popia  |  Inligting  |  Kuberkrakers  |  Privaatheid  |  Tegnologie  |  Persoonlike Inligting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.