Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Uitspraak in Rica-saak voorbehou
Kragtens wetgewing moet alle simkaarte in Suid-Afrika geregistreer wees. Foto: Publicdomainpictures

Uitspraak is Dinsdag voorbehou in die saak in die konstitusionele hof om dele van die sogenaamde Rica-wet as ongrondwetlik te laat verklaar.

Rica, wat staan vir die Regulation of Interception of Communications and Provision of Communication-Related Information Act, bepaal dat Suid-Afrikaners ’n bewys van identiteit en woonadres moet verskaf wanneer hulle ’n nuwe simkaart aanskaf.

Die wet is oorspronklik ingestel om kommunikasie tussen georganiseerde misdadigers te bemoeilik. Ingevolge die wet kan kommunikasie tussen vermeende misdadigers onderskep word en kan die gekoppelde inligting gebruik word om die misdadigers te identifiseer.

amaBhungane se sentrum vir ondersoekende joernalistiek en die joernalis Sam Sole het hulle tot die hof gewend om sekere aspekte van die Rica-wet as ongrondwetlik te laat verklaar.

Dit kom nadat Sole daarvan bewus geword het dat sy kommunikasie onderskep is terwyl hy met ’n ondersoek na oudpres. Jacob Zuma besig was.

Die saak het reeds in die hooggeregshof in Johannesburg gaan draai, waar regter Roland Sutherland gelas het dat dele daarvan wel nie aan konstitusionele vereistes voldoen nie.

Steven Budlender, wat Dinsdag namens amaBhungane en Sole in die konstitusionele hof opgetree het, het geargumenteer dat dit ’n ernstige inbraak maak op basiese menseregte as die regering die reg het om private kommunikasie te onderskep.

Volgens Budlender maak die wet in sy huidige formaat nie voorsiening vir die genoegsame beskerming van mense se reg tot privaatheid nie, veral omdat die persoon wat dopgehou word, nie daarvan bewus gemaak word nie.

Verteenwoordigers van die Nasionale Veiligheidsagentskap het aan die regters gesê grootskaalse toesig oor inwoners is noodsaaklik ten einde staatsveiligheid te verseker.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng was egter besorg oor die “gebrek aan spesifikasies” in die Rica-wet, spesifiek oor wanneer die staat die reg het om “in nasionale belang” iemand se kommunikasie te onderskep.

Ronald Lamola, minister van justisie, het die hof gevra dat tyd gegun word om die wet aan te pas. Die minister het die hof drie jaar gevra om die nodige veranderinge aan te bring om “Rica se tekortkominge” op te los.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, is gekant teen die hooggeregshof se vorige uitspraak dat veranderinge aan die wet aangebring moet word.

Bheki Cele, minister van polisie, is deels gekant teen die hooggeregshof se vroeëre uitspraak, spesifiek rakende die vereiste dat persone wat ondersoek word, daarvan ingelig moet word.

Uitspraak in die saak is voorbehou.

Meer oor:  Kommunikasie  |  Rica  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.