Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vakbonde dreig met staking oor afleggings by SAUK

Die SAUK het Dinsdag nog briewe as deel van sy art. 189-proses aan personeel uitgedeel nadat die uitsaaier ’n week gelede gesê het die proses is afgehandel en net 303 poste is oorbodig.

Bemawu
Die mediawerkersvakbond Bemawu glo hy het sowat 1200 werkers van die SAUK tans as lede.

Hannes du Buisson van die mediawerkersvakbond Bemawu sê die vakbond het Woensdag op ’n vergadering besluit om saam met die kommunikasiewerkersvakbond CWU oor die afleggings te staak.

Intussen het die EFF ook sy teenkanting en kommer oor die “geheime 189-proses” uitgespreek wat die SAUK se vermoë gaan beperk om in alle Afrikatale te kommunikeer.

Du Buisson sê hulle weet nie hoeveel mense vandeesweek briewe ontvang het nie, maar dit is nie dié wat voorheen briewe gekry het nie.

Die SAUK het verlede Donderdag in ’n verklaring gesê sy art. 189-proses is ná ’n “omvattende ses maande lange konsultasieproses” afgehandel.

“Nadat oorweging gegee is aan alle opsies om die totale getal werknemers te verminder, het die SAUK die getal oortollige werknemers wat geraak is verder tot 303 verminder – net meer as die helfte van die oorspronklik geprojekteerde 600 wat ontslaan moes word. Die finale ontslag hang egter af van die aanvaarding van die voorgestelde alternatiewe en die getal werknemers wat vrywillige skeidingspakkette en vroeë pensioen kies,” is verlede week in die verklaring gesê.

Du Buisson sê die mense wat vandeesweek briewe gekry het, het te kenne gegee hul poste was nie voorheen in die gedrang nie, maar nou word hul poste oortollig verklaar.

“Dit is nie mense wat voorheen briewe gekry het nie. Dit is nou nuwe poste wat oortollig gemaak word wat nie voorheen geraak is nie,” sê hy.

Hy sê Bemawu weet nie hoeveel briewe Dinsdag uitgereik is nie. “Hulle wil nie, of kan nie sê hoeveel nie.”

Hy sê ook dit is nie korrek dat net 600 mense aanvanklik briewe gekry het wat aandui hul poste is oortollig nie. Volgens hom is daar in konsultasie aan die vakbond gesê 800 briewe is uitgereik.

Staking dreig

Volgens Du Buisson het Bemawu Woensdag met die CWU vergader waar besluit is om deel te neem aan dié vakbond se staking teen die afleggings.

’n Dringende vergadering met die SAUK-direksie is versoek. “Indien hulle weier om te vergader sal die staking voortgaan.”

Bemawu het die arbeidshof oor die eerste ronde van konsultasies genader en aangevoer daar is nie oor die strukture en seleksiekriteria gekonsulteer nie.

Die arbeidshof het ten gunste van die SAUK beslis.

Volgens Du Buisson gaan Bemawu teen die hofbevel appelleer en is die stukke reeds op die SAUK beteken.

Die SAUK sê in reaksie op vrae oor wie nou geraak is dat dit “in totaal 303 personeellede” is.

Dit is in verskillende afdelings en op verskillende vlakke in die uitsaaier.

Daar is nie gereageer op die aantyging dat 800 mense aanvanklik briewe gekry het nie.

“Die bestuur glo die SAUK se herstelplan, wat daarop gemik is om ’n volhoubare en finansieel lewensvatbare openbare uitsaaier te skep, het reeds vrugte afgewerp ten opsigte van inkomsteskepping, en dat dit met die nuwe struktuur versterk sal word.”

Die nuwe struktuur word beskryf as een wat geskik is vir die doel van die SAUK.

Inheemse tale

Die SAUK ontken bewerings dat dit ’n poging is om die uitsaaidiens “ten koste van inheemse tale te kommersialiseer”.

Dit kom nadat die EFF die “geheime 189-proses” by die SAUK veroordeel het.

“Die neoliberale herstrukturering van die SAUK, wat kom ten koste van honderde werkers, is ’n kwaadwillige poging om die kern van sy mandaat te ondermyn om inligting aan die mees gemarginaliseerde mense en armes in Suid-Afrika te versprei,” lui ’n verklaring van die party.

“Die beoogde oorgang en herstrukturering gaan die vermoë van die SAUK beperk om in alle Afrikatale te kommunikeer en om nuus na die platteland uit te brei.”

Vuyani Pambo, woordvoerder van die EFF, sê die party gaan die beplande afleggings teenstaan.

Volgens Du Buisson het die SAUK 2 900 personeellede en het almal die art. 189-briewe ontvang.

Die eerste afleggingsbriewe is op 20 Oktober verlede jaar gestuur nadat die eerste konsultasie plaasgevind het.

Meer oor:  Cwu  |  Sauk  |  Eff  |  Bemawu  |  Sabc  |  Mediawerkersvakbond  |  Uitsaaidiens  |  Uitsaaier  |  Staking  |  Afleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.