Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Verdagte vas oor Experian-datadiefstal

’n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die diefstal van sowat 23 miljoen persoonlike datarekords en 727 000 sakeondernemings se rekords verlede jaar by die kredietburo Experian.

Die Valke het die man (36) van Soweto Woensdag in hegtenis geneem. Hy sou na verwagting in die Palm Ridge-landdroshof in Katlehong, Johannesburg, verskyn op ’n aanklag van bedrog en die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies, het kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, bevestig.

Die voorval is in Augustus verlede jaar bekend gemaak.

Die man het hom na bewering as ’n direkteur van ’n onderneming voorgedoen. Hy het die inligting van Experian aangevra en dit is aan hom verskaf.

Dit is destyds beskou as een van die grootste voorvalle van kubermisdaad wat nóg in Suid-Afrika plaasgevind het.

Experian
Sensitiewe inligting van Experian is in Mei verlede jaar met ’n bedrieër gedeel wat die kredietburo met ’n slap riem gevang het. Foto: Getty Images

Experian het in September verlede jaar volgehou die inligting wat hy aan die persoon verskaf het, was inligting wat reeds openbaar beskikbaar was.

Die inligting is al in Mei met die verdagte gedeel en Experian het in Julie van die bedrog bewus geword.

Volgens die Valke wou die man die inligting vir sowat R4,2 miljoen verkoop. Hy het hom volgens Mogale as ene Tebogo Mogashoa, direkteur van Talis Holdings, aan Experian voorgedoen. 

Hoewel die Valke nie die man geïdentifiseer het nie, het Rapport in September verlede jaar berig dat Karabo Phungula van Soweto die persoon is wat van die kuberdiefstal verdink word. Phungula het destyds aangevoer hy is onskuldig en dat hy eintlik die slagoffer van 'n smeerveldtog deur Experian is.

Die datadiefstal het verlede jaar ’n geskarrel onder banke veroorsaak wat mense onder meer aangeraai het om hul wagwoorde vir hul aanlyn bankdienste te verander.

Experian is een van die grootste kredietburo’s in Suid-Afrika.

’n Experian-woordvoerder het bevestig hulle is bewus daarvan dat die verdagte in hegtenis geneem is.

Experian het destyds self ’n saak by die Valke aanhangig gemaak.

Die Nasionale Kredietreguleerder het ook verlede jaar gesê hy gaan die voorval ondersoek. Experian is toe gevra om onmiddellik sekere maatstawwe in werking te stel om bystand en beskerming te verleen aan verbruikers en ondernemings wat deur die datadiefstal geraak is.

Experian het Woensdag bevestig hulle het dadelik ekstra beheer en veiligheidsmaatreëls ingestel om ’n herhaling van die datadiefstal te voorkom. ’n Omvattende ontleding en risikoberaming is gedoen, en die beheerproses om kliënte te verifieer is verbeter.


Meer oor:  Experian  |  Karabo Phungula  |  Bedrog  |  Kuberaanval  |  Inligtingsreguleerder  |  Kredietburo  |  Tegnologie  |  Popi  |  Datadiefstal  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.