Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Verkope van Huawei-fone kan tot 60% daal

Huawei het die eerste keer erken dat Amerikaanse sanksies ’n wesenlike impak op sy slimfoonverkope gaan hê.

Ren Zhengfei, uitvoerende hoof, het volgens Reuters aangedui die maatskappy berei hom voor vir ’n daling van tussen 40% en 60% in slimfoonverkope oor die volgende paar maande.

Die maatskappy oorweeg selfs om van sy beplande nuwe toestelle nie meer in internasionale markte uit te reik nie, berig Bloomberg.

Dit sluit in die nuwe Honor 20, ’n toestel van Honor, ’n volfiliaal van Huawei.

Dié toestel is sowat ’n week gelede in Frankryk en Brittanje bekend gestel, maar is louwarm deur selfoondiensverskaffers daar ontvang.

Twee van Frankryk se grootste diensverskaffers het reeds aangedui hulle stel geensins belang daarin om die Honor 20 te verkoop nie.

Daarom heroorweeg Huawei nou of hy die toestel in van sy ander markte, waaronder Suid-Afrika, moet bekendstel.

Bemarkingsbestuurders by die Chinese firma voorspel dat verkoopsvolumes tot 60% kan daal teen die einde van die jaar vergeleke met verlede jaar.

Huawei, die wêreld se tweede grootste vervaardiger van slimfone, het meer as 206 miljoen toestelle in 2018 verkoop.

Die Amerikaanse handelsdepartement het in Mei gelas geen Amerikaanse maatskappy mag meer sake met Huawei doen nie.

Dit sluit maatskappye soos Google, Facebook en Intel in.

Lees ook: Verbod op Huawei: Dié apps word almal geraak

Huawei het die impak aanvanklik probeer onderspeel deur te sê hy was “voorbereid” op só ’n verbod en dat hy gebeurlikheidsplanne in plek het.

Die verbod tree eers amptelik in Augustus in werking, wat beteken dat huidige Huawei-toestelle wat voor dan verskeep, steeds toegang tot dienste soos die Android-platform sal hê.

Wat daarna gebeur, is nog onduidelik. Huawei sê hy werk reeds etlike jare aan sy eie bedryfstelsel wat uiteindelik Android op sy toestelle gaan vervang, sowel as sy eie weergawes van gewilde Google-apps, waaronder Maps en YouTube.

China, Huawei se grootste mark, het reeds etlike jare gelede die gebruik van Google-produkte verbied. Of Huawei se gebruikers in Westerse lande die gebrek aan Google-produkte op hul toestelle gaan aanvaar, bly ’n ope vraag.

Suid-Afrikaanse diensverskaffers, waaronder Vodacom, MTN en Cell C, het in Mei aangedui hulle gaan vir eers voort met die verkoop van Huawei-toestelle op eie bodem, ongeag die moontlike impak van die Amerikaanse verbod.

Huawei se fabriek in Dongguan, naby Shenzhen, China.Foto: Getty Images

Voufoon ook vertraag

Intussen het Huawei ook die bekendstelling van sy eerste voubare foon, die Mate X, van vandeesmaand tot minstens September uitgestel.

’n Woordvoerder vir die maatskappy sê egter die uitstel is hoofsaaklik weens die openbare flater wat Samsung met die bekendstelling van sy voubare foon, die Galaxy Fold, vroeër vanjaar begaan het toe die foon in die hande van verskeie joernaliste gebreek het.

Daarom het Huawei besluit om eers sy voufoon terug te hou sodat “verdere toetse” uitgevoer kan word.

Daar word egter gegis dat die uitstel eerder is sodat Huawei die toestel kan aanpas om nie van Google se Android-bedryfstelsel gebruik te maak nie, maar eerder sy eie bedryfstelsel wat hy steeds besig is om te ontwikkel.

Meer oor:  Huawei  |  Tegnologie  |  Verbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.