Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Verloor jy kykNET? Hier’s jou opsies
Heelwat van kykNET se programme is ook op ander platforms beskikbaar.

Alle intekenare op DStv se historiese Select 1- en Select 2-pakket word hierdie komende Dinsdag na DStv Family oorgeskuif.

Hoewel DStv Family toegang bied tot 25 méér kanale as DStv Select, is kykNET nie een daarvan nie. Dit was altyd ingesluit op Select 2.

Die goeie nuus is kykers verloor nie noodwendig toegang tot van kykNET se gewildste programme soos Binnelanders, Getroud met rugby, Suidooster en Boer soek ’n vrou nie.

As jy een van die intekenare is wat van Dinsdag af toegang tot kykNET verloor, hier is jou opsies:

1. Geniet die programme op kykNET & Kie

Hoewel kykNET nie deel van die Family-pakket is nie, is kykNET & Kie wel.

Dié kanaal wys ’n verskeidenheid van kykNET se ouer programme, insluitend gewilde reekse en leefstylprogramme.

Die goeie nuus is dat kykNET en kykNET & Kie weeksaande tussen 18:00 en 20:00 byna dieselfde inhoud uitsaai.

Dit beteken kykers van albei kanale sal episodes van Getroud met rugby, Suidooster en eNuus kan kyk.

Binnelanders wys ook net na eNuus op kykNET & Kie, maar dis ouer episodes. Getroud met Rugby ook. 

Ongelukkig wys kykNET se jongste televisiedramas en realiteitsreekse soos Fynskrif en Boer soek ’n vrou ook nie op kykNET & Kie nie.

As jy graag steeds dié programme wil sien, moet jy een van die ander opsies probeer.

2. Skakel oor na DStv Compact Plus

kykNET is net beskikbaar op DStv se twee duurste pakkette. Gelukkig is Compact Plus bykans R300 goedkoper as DStv Premium en dit gee toegang tot kykNET.

Die Family-pakket kos R265 per maand. Vir R254 meer per maand kry jy nie net toegang tot kykNET nie, maar verskeie ander kanale, insluitend M-Net City, BBC Brit en Comedy Central.

3. Kyk na kykNET-programme op Showmax

Showmax en kykNET het ’n tyd gelede ’n ooreenkoms gesluit waarvolgens dié stromingsdiens verskeie van kykNET se programme bied oomblikke nadat dit op die kassie gewys het.

Die jongste episodes van reekse soos Getroud met rugby en Boer soek ’n vrou verskyn op Showmax net nadat dit op televisie gewys het.

Die nuwe reeks van Fynskrif gaan ook eersdaags op Showmax te siene wees, het ’n woordvoerder bevestig.

Verskeie ander kykNET-reekse soos Die Byl, Waterfront, Spoorloos en Hotel is ook op Showmax te sien.

Showmax kry ook elke nou en dan nuwe episodes van Binnelanders en Suidooster, hoewel dit nie die jongste episodes bied wat pas op televisie gewys het nie.

Dit is so ’n paar weke agter.

Showmax kos R99 per maand, maar benodig wel ’n lekker vinnige internetverbinding om behoorlik te werk. Jy kan ook na die programme op jou slimfoon of skootrekenaar kyk.

4. Deel ’n DStv-rekening

Nóg ’n opsie is vir vriende of bure om kragte saam te snoer en ’n DStv-rekening te deel.

Intekenare van DStv se Premium-pakket kry gratis toegang tot DStv Now (en Showmax ook!).

Met DStv Now kan jy enige DStv-kanaal stroom op jou slimfoon of skootrekenaar.

Tot vyf toestelle kan op een DStv-rekening aan DStv Now verbind. Twee daarvan kan gelyktydig verskillende kanale stroom.

Dit beteken dat drie huishoudings teoreties die prys van DStv Premium kan deel en al drie sal terselfdertyd na kykNET kan kyk – twee wat die kanaal stroom en een wat op die televisie daarna kyk.

As drie huishoudings die prys van DStv deel, sal dit elkeen sowat R270 per maand kos; dieselfde prys as DStv Family.

Nes Showmax benodig DStv Now ook ’n lekker vinnige internetverbinding om te werk.

5. Gaan kyk kykNET by die bure

As geeneen van dié opsies jou aanstaan nie, kan jy altyd ’n reëling met jou buurman en mede-liefhebber van Binnelanders tref om elke aand daar te gaan aanklop om te kyk wat At Koster volgende aanvang.

Jy kan aanbied om al die versnaperinge te verskaf en kort voor lank is jy en jou buurman boesemvriende en daag jy sommer daar op vir die rugby ook.

Hoekom verloor ek toegang tot kykNET?

DStv het reeds in 2013 sy Select-pakkette opgeskort en DStv Family as alternatief aangebied.

Bestaande intekenare van enige Select-pakket is egter toegelaat om daarop te bly mits hulle vir niks langer as drie maande op ’n slag nie ’n DStv-intekenaar was nie.

Nou, ses jaar later, word alle intekenare egter oorgeskuif na die Family-pakket wat om en by dieselfde as Select kos.

  • Die artikel is intussen aangepas om dit duidelik te maak dat episodes van Binnelanders en Getroud met Rugby op kykNET & Kie ouer episodes is as wat op kykNET wys.
Meer oor:  Kyknet  |  Dstv  |  Televisie  |  Vermaak  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.