Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Verwag nog sport op Showmax, sê MultiChoice

Multichoice het sy aantal aktiewe gebruikers van internetgebaseerde televisie- en videovermaak – dus DStv Now en Showmax – in die afgelope boekjaar verdubbel.

Showmax groei, maar MultiChoice sê nie hoeveel mense daarop ingeteken is nie.

Die groep sê in sy eerste stel jaarresultate sedert sy ontknoping van Naspers in Februarie vanjaar al sy intekenare – satelliettelevisie ingesluit – het met 12% tot 15,1 miljoen gestyg.

Net in Suid-Afrika alleen het intekenare met 8% of 500 000 tot 7,4 miljoen gegroei, alles ondanks druk op verbruikers se beursies. Maar plaaslik het sy DStv premiekykers gedros en afgeskaal, want die premiedienste wat DStv Premium en Compact Plus insluit het sowat 100 000 intekenare verloor. Die totale aantal intekenare in hierdie kategorie het met 7% tot 1,5 miljoen gekrimp.

In die res van Afrika was die groei 17% of 1,1 miljoen tot 7,7 miljoen.

Dit is die eerste keer dat MultiChoice meer intekenare in die res van Afrika as in Suid-Afrika self het.

Internet

Tim Jacobs, finansiële hoof van MultiChoice, sê die groep se internetgebaseerde videodienste het hul intekenare verdubbel te midde van groeiende mededinging van plaaslike diensverskaffers soos Vodacom en Cell C, wat hul eie stromingsdienste bied, asook internasionale mededingers soos Netflix en YouTube.

Die groep maak steeds nie bekend hoeveel intekenare Showmax het nie.

Te midde van die sterk mededinging van stromingsdienste het MultiChoice met sportuitsendings via Showmax begin eksperimenteer, en Jacobs meen hulle sal nog meer hiervan probeer.

Die twee hoofmikpunte met Showmax is om die gebruikerservaring te verbeter en om die stelsel wat aanbevelings aan die kyker doen, op te knap.

In syfers

MultiChoice se syfers vir die boekjaar tot einde Maart lyk só:

  • Omset groei met 6% tot R50,1 miljard
  • Handelswins groei met 11% tot R7 miljard(as wisselkoers-effek uitgelaat is, was die groei 27%)
  • Kernwesensverdienste groei met 10% tot R1,8 miljard
  • Besparings van R1,3 miljard is behaal, wat 25% meer is as die vorige boekjaar

Notering

Jacobs sê hy is relatief positief oor die groep se notering in Februarie. Die aandeelprys was met notering R95 en het sedertdien tot sowat R128 gegroei. Plaaslike institusionele beleggers soos die Openbare Beleggingskorporasie, Allan Gray, Prudential en Coronation het almal hul belang in die maatskappy uitgebrei en hulle besit saam nou al sowat 60% van MultiChoice.

Res van Afrika

In die res van Afrika kon MultiChoice dit regkry om handelsverliese te laat krimp. Jacobs verduidelik die onderneming sukkel in van die Afrikalande soos Angola, Ghana en Zambië weens die skerp verswakking in hul plaaslike geldeenhede.

Groei van intekenare in die res van Afrika was egter die sterkste sedert die blink jare in 2015 en 2016.

Besparings

Jacobs is positief dat MultiChoice nog verdere vet in sy bedrywighede kan sny. In die afgelope jaar is R1,3 miljard se besparings behaal, wat 25% beter is as die vorige jaar.

Die teiken is om sowat R1 miljard se besparings per jaar te kan haal, en Jacobs glo daar is nog ’n paar jaar oor waarin sulke besparings behaal kan word.

  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers. Naspers het in Februarie sy belang in MultiChoice aan sy aandeelhouers uitgekeer. Naspers self maak Vrydag sy resultate bekend.
    Meer oor:  Multichoice  |  Showmax  |  Media  |  Videovermaak  |  Internet  |  Video  |  Televisie  |  Stromingsdienste  |  Betaaltelevisie  |  Videostromingsdienste
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.