Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vesel tydens Covid flink landwyd aangelê

Vumatel se vesel-internetkabels loop nou by 1 miljoen Suid-Afrikaanse huise verby. Die maatskappy het dié mylpaal op 31 Maart vanjaar bereik.

Optiese vesel versprei oneindig meer inligting as
Optiese vesel versprei oneindig meer inligting as konvensionele koperlyne, voorheen die hoofmiddel vir telekommunikasie.

Vumatel se netwerk het in die afgelope twee jaar van 8 000 km tot 18 000 km uitgebrei.

Die gevestigde telekommunikasiemaatskappye soos Telkom en MTN het wel meer kilometers vesel aangelê, maar Vumatel is die voorloper wat betref kabels wat voor huise verby loop.

Na raming loop veselkabels tans by sowat 2,3 miljoen huise in Suid-Afrika verby.

Daar moet onderskei word tussen die vesel wat by huise verbyloop en vesel-tot-huis, oftewel huishoudings met vesel-internet-ver­binding.

Vumatel het tot dusver meer as 800 000 Suid-Afrikaanse huishoudings met vesel-internet verbind.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) se IT-verslag van 2020 toon vesel-tot-huis en vesel-tot-sakeondernemings het tussen 2015 en 2019 met 5 000% toegeneem.

Dit is die jongste bekende syfer, maar sedert die Covid-19-inperkings verlede Maart ingestel is, het die vraag na vesel-internet aansienlik gegroei.

Vesel-internet was aanvanklik net vir groot stedelike sentra beskore, maar al hoe meer diensverskaffers het die afgelope jaar begin om kabels in kleiner plekke aan te lê.

Metrofibre het byvoorbeeld onlangs begin uitbrei na Despatch en Kariega (Uitenhage) in die Oos-Kaap, Pietermaritzburg, Hilton en Howick in KwaZulu-Natal, eMalahleni in Mpumalanga en Klerksdorp in Noordwes.

k

Die netwerk beoog om binne die volgende drie jaar vesel-internet aan 300 000 huishoudings te verskaf.

Ook Vumatel het sy netwerk, wat eers net in Johannesburg, Durban en Kaapstad was, uitgebrei na Polokwane in Limpopo en Vereeniging in Gauteng.

Frogfoot het ook onlangs gesê hy gaan vesel-internet aan onder meer Oos-Londen, Ermelo en Nelspruit begin verskaf.

Lourens Campher, hoof van batefinansiering by Investec, het aan Rapport gesê vesel-internetdiensverskaffers het groot bedrae aanvangskapitaal nodig, terwyl opbrengste eers later realiseer.

Hulle wag dikwels lank om goedkeuring by owerhede te kry om kabels aan te lê en sypaadjies om te dolwe.

En al is die kabels aangelê, moet huishoudings eers op die dienste inteken voordat daar ’n opbrengs vir die maatskappy is.

“Dit is ’n lang siklus voordat daar iets soos ’n kontantvloei is.”

Op die oog af is dit riskant vir banke om finansiering aan sulke maatskappye te bied, maar met vesel-internet “sien ons ’n positiewe trajek”.

Investec het onlangs ’n gestruktureerde finansieringspakket van R2,5 miljard vir Metro­fibre saamgestel vir uitbreidings aan sy veselnetwerk buite die grootste stedelike sentra.

“Mense en ondernemings met internettoegang het ’n onregverdige voordeel. Dit is noodsaaklik vir ekonomiese en maatskaplike vooruitgang om toe te sien dat meer Suid-Afrikaners gekonnekteer word,” sê Cam­pher.

Plattelanders op baie afgeleë gebiede en plaasbewoners sal egter nie sommer ’n vesel-internetnetwerk kry nie en sal dus afhanklik bly van selfoondiensverskaffers se selfoontorings vir verbinding.

Volgens Campher is dit nie ekonomies lewensvatbaar vir vesel-internetdiensverskaffers om peperduur infrastruktuur aan te lê waar daar ’n lae digtheid van mense is nie.

Meer oor:  Vumatel  |  Telkom  |  Tegnologie  |  Veselinternet  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.