Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vivo se nuwe vlagskipfoon oortref verwagtinge

Vivo is dalk ’n huishoudelike handelsnaam in lande soos China en Indië, maar Suid-Afrikaanse slimfoongebruikers ken dit nie juis nie.

Die nuwe Vivo X50 Pro is die eerste slimfoon met ’n ingeboude beuel vir die kamera.

Dié Chinese slimfoonvervaardiger het tot dusver ’n handvol goedkoper modelle in Suid-Afrika uitgereik.

Die nuwe X50 Pro is sy eerste toetrede tot die mark vir duurder, vlagskipfone.

En dit oortref alle verwagtinge.

Die X50 Pro is modern, lig, vinnig en toegerus met ’n kamerastelsel wat waarlik by die vernaamstes in die bedryf soos Huawei en Apple kan kers vashou.

Op die oog af is daar dalk nie veel wat die Vivo van ander Android-fone in sy prysklas onderskei nie, maar dis juis die gevoel van familiariteit wat in sy guns tel.

Ontwerp, voorkoms en funksies

Terwyl ander slimfoonvervaardigers soos Samsung en LG deesdae al meer eksentriek word in die ontwerp van nuwe slimfone, het Vivo ’n meer vaartbelynde voorkoms vir sy X50 Pro gekies.

Die foon lyk modern, sexy en stylvol. Dit pas stewig in die palm van jou hand en weeg boonop minder as 200 g.

Die Vivo X50 Pro kos R20 000 en word met ’n stel koordlose oorfone verskeep.

Dit is so veerlig deels danksy die aluminiumraam en bondige ontwerp van sy kamerastelsel wat in ’n netjiese raam aan die rugkant ingebou is.

Die ruim skerm van 6,56 duim (16,66 cm) strek van hoek tot kant en reageer blitsvinnig op aanraking.

Die selfiekamera is in die linker boonste hoek ingebed en pla mens nie juis terwyl jy na ’n video kyk nie.

Die foon is wel teleurstellend wat sy klankgehalte betref. Sy ingeboude luidsprekers is nie stereo nie en musiek klink maar altyd of jy in ’n toilethokkie daarna luister.

Daar is geen opening vir oorfone nie, maar oorfone wat deur die herlaaipoort werk, is ingesluit.

Vreemd genoeg is die X50 Pro ook glad nie water- of stofbestand nie. So moenie daarmee in die swembad spring nie.

Vivo se koordlose oorfone

Die X50 Pro word verskeep met oorfone wat met ’n kabel aan die foon koppel, maar ’n stel van Vivo se eie koordlose oorfone word as ’n spesiale geskenk ingesluit.

Die Vivo TWS Neo lyk op ’n haar soos Apple se Airpods, maar is donker groen – byna swart – in plaas van wit.

Die oorfone se afwerking is baie plastiekagtig, wat ’n mens laat twyfel oor die gehalte van die vakmanskap.

(Anders as die X50 Pro wat met uitstekende vakmanskap en ontwerp kan spog.)

Tog is die gehalte van die TWS Neo se klank nie te teleurstellend nie.

Die oorfone sukkel vreeslik om in mens se ore te bly, maar as dit eers in is, bied dit ’n aangename – maar nie merkwaardige – luisterervaring.

Die oorfone verbind ook maklik aan ander toestelle, ook dié van Apple met basies geen latensie nie.

Dit is ’n lekker bonus om die oorfone saam met die X50 Pro te ontvang.

Verwerker, battery en bedryfstelsel

Die X50 Pro se verwerker (Snapdragon 765G) is nie die beste wat daar beskikbaar is nie, maar dis skaflik vir die prys wat die foon kos.

Daar was geen ooglopende kwessies oor die spoed waarteen apps oop- en toemaak nie. Vivo bemark ook die toestel as ideaal vir liefhebbers van videospeletjies, hoewel ek nie self speletjies daarop gespeel het nie.

Vivo het soos Huawei en Samsung sy eie bedryfstelsel ontwikkel wat bo-op die Android-bedryfstelsel werk.

Die Vivo TWS Neo koordlose oorfone.

Die X50 Pro is toegerus met FunTouch OS 10,5 en Android 10, maar word verskeep met verskeie onnodige apps wat ’n irritasie is om eers uit te vee nadat die foon die eerste keer aangeskakel is.

Vivo is nes Huawei van China, maar sy fone het steeds toegang tot al Google se produkte en dienste en word geensins deur die Amerikaanse verbod op Hauwei geraak nie.

Die foon is toegerus met 8 gigagrepe se geheue en ruim ingeboude stoorplek van 256 gigagrepe.

Die massiewe battery van 4 315 mAh hou heeldag. Die foon herlaai ook blitsvinnig en gaan van heeltemal pap tot volgelaai in net meer as ’n uur.

Die fantastiese kamera

Daar is deesdae werklik min wat die kamera van een slimfoon van ’n ander onderskei.

Dit is ook so in die geval van die X50 Pro. Dit is egter nie ’n slegte eienskap nie, want dit beteken die foon se kamera is net so uitstekend soos dié van ander vervaardigers.

Op die gebied van fotografie neem die X50 Pro pragtige foto’s in enige geleentheid. Die kamera is ongelooflik maklik om te gebruik en neem skerp, helder foto’s sonder dat jy aan enige van die verstellings hoef te peuter.

Foto’s vertoon ewe mooi in die dag of nag. Trouens, die X50 Pro is toegerus met ’n spesiale funksie om die maan te kan afneem teen 60 keer groter as wat dit met die blote oog gesien kan word.

Daar is vier kameralense aan die agterkant van die foon. Die hooflens van 48 MP is vervaardig deur Sony. Daar is ook ’n wyehoeklens van 8 MP, ’n portretlens van 13 MP en ’n telefotolens van 8 MP.

Gesamentlik laat dié kamerastelsel jou toe om objekte tot 60 keer te vergroot. Dit is ook maklik om die Bokeh-effek op foto’s toe te pas waarvolgens die voorgrond in fokus is, maar die agtergrond uit fokus gelaat word.

Vir videograwe sal die X50 Pro se ingeboude beuel dalk net die deurslag bied.

Die hooflens is verbind aan ’n ingeboude beuel wat die lens stabiliseer terwyl jy video’s neem.

Dit is die eerste slimfoon met ’n ingeboude beuelstelsel en verseker ongelooflik stabiele video’s.

Die beuelstelsel help ook met nagfotografie deur enige beweging in jou hande uit te skakel terwyl jy foto’s neem.

Gevolgtrekking en prys

Die X50 Pro is sonder twyfel Vivo se beste foon tot dusver. Die foon het ’n moderne ontwerp en pas gemaklik in die palm van jou hand.

Die skerm is ruim en kristalhelder.

Sy kamerastelsel is in elke opsig op dieselfde vlak as dié van die duurste Samsungs en Huawei en die prys is goedkoper as albei dié vervaardigers se jongste modelle.

Sy verwerker is dalk nie die beste nie, maar dit beteken nie dat die foon nie take blitsvinnig kan verrig nie.

Die battery hou veel langer as ’n dag en herlaai boonop in net meer as ’n uur.

Die X50 Pro bied teen R20 000 ontsettend baie waarde vir geld.

Dit is reeds by Vodacom se winkels op kontrak of kontant beskikbaar.

Meer oor:  Vivo  |  Tegnologie  |  Selfone  |  Slimfone  |  Vivo X50 Pro  |  X50 Pro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.