Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom belowe 5G kom ‘binnekort’

Vodacom wil reeds vanjaar 5G- mobiele dienste aan sy Suid-Afrikaanse kliënte bied deur ’n netwerk te gebruik wat Liquid Telecom besig is om te bou, het Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom, Dinsdag gesê.

5G is die nuutste generasie tegnologie vir vinnige internet. Foto: Unsplash

Liquid Telecom het in Januarie aangekondig hy bou ’n groothandel-5G-netwerk wat van vroeg in 2020 beskikbaar sal wees. Hy gebruik sy deel van die 3,5 GHz-spektrum wat vir 5G nodig is. Liquid sê hy sal ander netwerke toelaat om sy netwerk vir swerwingsdienste te gebruik.

Liquid sê die groothandeldiens sal in die meeste groot stede beskikbaar wees.

Hy het nie gesê watter tegnologieverskaffer gebruik gaan word vir die 5G-netwerk nie.

Joosub sê hy hoop om 5G-dienste reeds vanjaar in Suid-Afrika bekend te stel.

“Dis moontlik danksy ’n onlangse swerwingsooreenkoms met Liquid Telecom, aangesien 5G-spektrum grootliks nog nie in Suid-Afrika toegewys is nie.”

Vodacom, waarvan Brittanje se Vodafone die meerderheidsaandeelhouer is, sê hy sal die 5G-netwerk namens Liquid Telecom bestuur.

Selfoonmaatskappye kla nou al jare lank oor die vertraging in die toewysing van breëbandspektrum, waarsonder 5G onmoontlik is. 5G is baie vinniger as die bestaande 4G-netwerk.

Vodacom en MTN het albei toetsprojekte vir die nuwegenerasie-tegnologie met spektrum wat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) aan hulle beskikbaar gestel het, maar hulle word nog nie toegelaat om dit te verkoop nie.

Okosa gaan glo in April die proses en skedule vir die lisensiëring en toewysing van 5G-spektrum bekend stel.

Rain, wat slegs data verkoop, het ’n draadlose 5G-netwerk in Johannesburg en Pretoria bekend gestel.

Vodacom het reeds ’n 5G-diens in Lesotho en sal die eerste selfoonmaatskappy in Suid-Afrika wees wat 5G aan selfoongebruikers beskikbaar stel.

Vodacom het in die drie maande tot einde Desember 6,6% meer inkomste gemaak, danksy sterk groei in datagebruik en inkomste uit sy M-Pesa-geldoordragdiens.

Joosub sê die maatskappy se groei in Tanzanië sal geknou word omdat hy 1,7 miljoen intekenare van sy netwerk moes afsny omdat hul identifikasiedokumente nie geverifieer is nie.

Die uitvoerende hoof sê Vodacom werk daaraan om hulle weer te verbind sodra hul biometriese registrasie voltooi is. – Reuters

Meer oor:  Vodacom  |  Liquid Telecom  |  Spektrum  |  Breëband  |  Selfoonmaatskappye  |  Tegnologie  |  Okosa  |  Internet  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.