Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom ‘gaps’ Nedbank se geldbaas
Vodacom het Raisibe Morathi van Nedbank as sy nuwe finansiële hoof aangestel. Foto: Getty Images

Raisibe Morathi is die Vodacom-groep se nuwe finansiële hoof. Sy sal die pos van 1 November beklee, bykans ’n jaar nadat Till Streichert, die vorige finansiële hoof, skielik sy bedanking ingedien het.

Morathi is reeds sedert 2009 die finansiële hoof van die Nedbank-groep waar sy ’n span van meer as 900 mense gelei het.

Nedbank het Morathi se bedanking as sy finansiële hoof ook Dinsdag aangekondig.

Volgens ’n verklaring op Sens “betreur” Nedbank se direksie Morathi se bedanking, maar aanvaar dit.

Haar laaste dag by die bank is op 30 September.

Mike Davis neem op 1 Oktober by haar oor. Morathi sal nog ’n maand aanbly in ’n ondersteunende hoedanigheid.

Davis was tot dusver groephoof van balansstaatbestuur by Nedbank.

Sowel Davis as Morathi gaan ook voortaan op die direksies van onderskeidelik Nedbank en Vodacom dien.

Volgens Vodacom is Morathi een van net ’n paar swart, vroulike finansiële hoofde van ’n genoteerde maatskappy in Suid-Afrika.

Shameel Joosub, uitvoerende hoof van Vodacom, sê hy is “verheug” om Morathi by die maatskappy te verwelkom. Hy glo sy gaan die groep se finansiële bedrywighede verder “vernuwe en moderniseer” soos wat die maatskappy verder uitbrei op die gebied van finansiële tegnologie op die vasteland.

Mike Brown, uitvoerende hoof van Nedbank, sê eweneens hy is “teleurgesteld” in Morathi se bedanking, maar wens haar alles van die beste toe.

“Ek is dankbaar dat ons, gegewe die huidige ekonomiese klimaat, dadelik ’n aanstelling kon doen in dié belangrike pos.”

Streichert, van 2015 tot November 2019 Vodacom se finansiële hoof, het daardie maand skielik sy bedanking aangekondig enkele dae nadat Andries Delport, die maatskappy se tegnologiehoof, ook skielik bedank het.

Dejan Kastelic is van 1 Mei vanjaar as Vodacom se nuwe tegnologiehoof aangestel.

Vodacom se aandeelprys was Dinsdagoggend meer as 1% laer op R135,64.

Nedbank se aandeelprys was byna onveranderd op R110,73.

Meer oor:  Nedbank  |  Vodacom  |  Finansiële Hoof  |  Maatskappy  |  Diensverskaffer  |  Tegnologie  |  Aanstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.