Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom, MTN móét data tot 50% goedkoper maak
Vodacom is steeds Suid-Afrika se grootste diensverskaffer. Foto: Getty Images

Vodacom en MTN moet onmiddellik die prys van data met tot 50% verlaag, of hulle word deur moontlike vervolging in die gesig gestaar.

Dit is maar een van vele drastiese ingrypings wat deur die Mededingingskommissie vereis word na afloop van sy markondersoek na die “buitensporige hoë prys van data” in Suid-Afrika.

Tembinkosi Bonakele, voorsitter van die kommissie, het Vodacom en MTN oor die kole gehaal vir skynbaar onmededingende gedrag en albei die diensverskaffers daarvan beskuldig dat hulle doelbewus veral armer Suid-Afrikaners uitbuit om hul wins op te stoot.

Die kommissie het Maandag die finale bevindinge van sy jare lange markondersoek bekend gemaak.

Die kommissie het ook stappe aangekondig waaraan diensverskaffers oor die volgende paar maande moet voldoen ten einde die prys van data “onmiddellik” te verlaag.

Van die verpligte ingrypings sluit in:

  • Vodacom en MTN moet binne twee maande ’n ooreenkoms met die kommissie aangaan waarvolgens hulle die prys van data drasties sal sny. Gegrond op beskikbare syfers uit die maatskappye se jaarstate glo die kommissie Vodacom en MTN kan ’n kosteverlaging van tussen 30% en 50% bekostig. As die diensverskaffers nie gehoor hieraan gee nie, kan hulle vervolg word.
  • Vodacom en MTN moet die prys per megagreep van 500 megagreep data wat geldig is vir 30 dae dieselfde maak vir vooruitbetaalde kliënte as vir kontrakkliënte.
  • Vodacom en MTN moet onmiddellik ophou om “armes uit te buit”.
  • Al die diensverskaffers, nie net MTN en Vodacom nie, moet binne drie maande ’n ooreenkoms met die kommissie sluit waarvolgens hulle ’n bepaalde hoeveelheid gratis data per maand aan al hul kliënte bied. Die kommissie het nie ’n aanbeveling gemaak rakende die hoeveelheid data wat diensverskaffers gratis moet weggee nie, solank dit “genoeg is om aan die digitale ekonomie te kan deelneem”.
  • Al die diensverskaffers moet ook binne drie maande ’n ooreenkoms met die kommissie aangaan waarvolgens hulle sekere opvoedkundige inhoud beskikbaar sal stel sonder dat die gebruiker ’n positiewe databalans hoef te hê.
  • Al die diensverskaffers moet ook binne drie maande op ’n maandelikse grondslag aan gebruikers presies sê hoeveel hulle die afgelope maand aan data bestee het.

Daarbenewens moet Vodacom en MTN wysigings aanbring aan die wyse waarop hulle hul finansiële state weergee. Die kommissie wil hê dit moet meer deursigtig wees en wys hoeveel die diensverskaffers verdien deur die verhuring van hul netwerkinfrastruktuur aan onderskeidelik Telkom en Cell C.

Die kommissie beskuldig Vodacom en MTN daarvan dat hulle Telkom en Cell C uitbuit omdat daardie diensverskaffers nie dienste teen kosprys kan koop nie.

Dit veroorsaak dat Cell C en Telkom noodgedwonge hul pryse moet opstoot aan hul kliënte terwyl Vodacom en MTN as eienaars van die netwerkinfrastruktuur dit nie hoef te doen nie.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, Tembinkosi Bonakele, voorsitter van die Mededingingskommissie en Hardin Ratshisusu, ondervoorsitter van die kommissie. Foto: Verskaf

Die kommissie het ook bevind dat diensverskaffers se klagtes dat die gebrek aan beskikbare spektrum die prys van data opstoot, nie water hou nie.

Ook nie die argument dat data in Suid-Afrika soveel duurder is omdat die netwerk hier soveel beter is nie.

Volgens Bonakele bestee Vodacom en MTN minder as 5% van hul bedryfsuitgawes per jaar aan die lisensiëring van spektrum.

Daarteenoor word die prys van data in sommige gevalle met tot 20% verhoog.

Volgens die kommissie is dit ook bog dat die diensverskaffers hoër pryse vir data moet vra net om sy “uitstekende” netwerkinfrastruktuur in stand te hou.

MTN het Maandag by navraag gesê hy is nog nie in die posisie om kommentaar te lewer op die bevindinge in die verslag nie, omdat hy dit nog nie onder oë gehad het nie.

Vodacom se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Volgens Bonakele sal diensverskaffers wat nie gehoor gee aan die vereistes van die kommissie nie, ingevolge die Mededingingswet vervolg word.

Meer oor:  Telkom Mobile  |  Mtn  |  Cell C  |  Vodacom  |  Telkom  |  Datapryse  |  Tegnologie  |  Diensverskaffers  |  Mededingingskommissie  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.