Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom, MTN se data duurder in SA as elders
Die prys van data in Suid-Afrika is gans te duur, het die Mededingingskommissie bevind.

Sowel Vodacom as MTN vra meer vir dieselfde hoeveelheid data in Suid-Afrika as in ander lande op die kontinent waar hulle ook sake doen.

Die prys van een gigagreep data by Vodacom is byvoorbeeld byna 900% duurder in Suid-Afrika as in Egipte waar die diensverskaffer onder die handelsnaam Vodafone sake doen. ’n Gigagreep data kos $1,12 in Egipte teenoor $11,06 in Suid-Afrika.

Dié bevinding is deel van die uitkoms van die Mededingingskommissie se markondersoek na die hoë koste van data in Suid-Afrika. Die kommissie het Woensdag sy bevindinge in Pretoria bekend gemaak.

Die kommissie het in April 2017 met sy ondersoek na datapryse begin.

Buiten dat Vodacom en MTN merkbaar meer vir data op eie bodem vra, het die kommissie ook bevind dat data in Suid-Afrika buitensporig duur is vergeleke met naburige lande, maar ook met ander lande in die Brics-genootskap, wat Brasilië, Rusland, Indië en China insluit.

Die Mededingingskommissie kap in sy bevindings ook na diensverskaffers wat, volgens hom, daarop ingestel is om armer kopers van data skaamteloos uit te buit.

“ ’n Ondersoek van datapryse by al die diensverskaffers wys dat kopers van kleiner databondels – gewoonlik armer mense – onverklaarbaar meer per megagreep daarvoor betaal,” sê die kommissie.

’n Ondersoek van datapryse by al die diensverskaffers wys dat kopers van kleiner databondels – gewoonlik armer mense – onverklaarbaar meer per megagreep daarvoor betaal.
Mededingingskommissie

Relatief tot ’n eengigagreep-bondel betaal ’n persoon wat ’n 100-megagreep-bondel koop tot twee keer meer per megagreep vir data wat dieselfde tydperk geldig gaan wees.

’n 50-megagreep-bondel kos tot drie keer meer per megagreep en een van 20 megagrepe tot vier keer meer, het die kommissie bevind.

Die Mededingingskommissie sê ook dat diensverskaffers nie deursigtig genoeg is in die samestelling van datapryse nie.

Dit is onduidelik hoe die prys van data bepaal word, hetsy per mega- of gigagreep. “Diensverskaffers verkies om spesiale aanbiedinge of gratis data aan te bied pleks van om die oorhoofse prys te verlaag.

“Gevolglik weet min kopers wat hulle werklik per megagreep betaal.”

Terselfdertyd gee die kommissie toe dat die gebrek aan beskikbare spektrum die bedryfskoste van diensverskaffers opstoot wat uiteindelik tot hoër datapryse lei. Maar selfs sou meer spektrum beskikbaar gestel word, sal datapryse nie noodwendig verlaag word nie omdat niks diensverskaffers noop om dit te doen nie.

Is daar ’n oplossing?

Die Mededingingskommissie doen aanbevelings om die probleem van “buitensporig hoë datapryse” op te los, maar die haalbaarheid daarvan is onduidelik.

Eerstens vra die kommissie vir ’n verbintenis van al die diensverskaffers om die prys van hul data te verlaag tot ’n “effektiewe vlak”, sonder om te verduidelik wat daarmee bedoel word.

Die kommissie vra ook dat diensverskaffers die prys van databondels van kleiner as een gigagreep verlaag tot ’n vlak wat “objektief geregverdig” kan word.

Die voorstel is dat die prys van een megagreep data nooit meer as 25% meer kos as wat dit sou kos as ’n gebruiker ’n eengigagreep-bondel gekoop het nie.

Die kommissie vra voorts ook dat alle diensverskaffers geen data hef vir toegang tot sekere opvoedkundige instellings se inhoud nie.

Sou diensverskaffers nie self tot die voorstelle instem nie, kan dit nodig wees om reguleerders soos die Onafhanklike Kommunikasieowerheid te vra om self ondersoek in te stel.

Meer oor:  Mededingingskommisie  |  Mtn  |  Vodacom  |  Data
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.