Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom reken ‘super-app’ sal almal op hol hê

Vodacom glo hy gaan sy volgende miljoen intekenare lok met sy nuwe “super-app”, VodaPay.

Vodacom het Dinsdag sy resultate uitgereik. Foto: Getty Images

Dié app gaan ’n soort eenstopdiens wees waar mense lenings kan aangaan, kan spaar, betalings met QR-kodes kan doen, geld kan oordra, inkopies kan doen en toegang kan kry tot vermaak.

VodaPay word een van die dae bekend gestel.

“Ons verwag dat die app en die voortgesette uitbreiding van ons aanbod van finansiële dienste digitale en finansiële insluiting sal bevorder en ’n groeiplatform vir gebruikers en handelaars in Suid-Afrika sal skep,” sê Shameel Joosub, uitvoerende hoof, in die groep se resultatevoorlegging vir die boekjaar tot einde Maart.

Die groep is die grootste selfoonnetwerk in Suid-Afrika met 39,9 miljoen intekenare plaaslik, ’n styging van 6,7% in die jaar. As groep het Vodacom nou 123,7 miljoen intekenare, ’n styging van 7,1%.

k

In Suid-Afrika het werk van die huis af datagebruik die hoogte laat inskiet.

Vodacom het 200 000 datakliënte verloor, maar dataverkeer het met 55,6% toegeneem. Kliënte met veselinternet tuis of by ondernemings het meer as verdubbel tot 126 765.

Die getal slimtoestelle op Vodacom se netwerk het met 9,5% tot 23,2 miljoen gestyg en daarvan het 4G-toestelle met 22% tot 15,7 miljoen gestyg. Gemiddeld word 2,1 GB data per maand per slimtoestel gebruik.

Inkomste uit dienste

In syfers
  • Groepinkomste styg met 8,3% tot R98,3 miljard.
  • Finale dividend van 410c per aandeel word uitgekeer.
  • Verdienste per aandeel styg met 4,2% tot 978c.
  • Wesensverdienste per aandeel styg met 3,7% tot 980c.
  • Vodacom se gemiddelde inkomste per gebruiker, ’n belangrike maatstaf, het met 2,1% gegroei.

Die groep se inkomste uit dienste het met 5,8% tot byna R77 miljard gestyg. Dit behels ’n styging van 7% in Suid-Afrika en van 1,7% in die ander lande waarin Vodacom sake doen.

Vodacom het vir die grootste deel van sy boekjaar die koste van M-Pesa- mobiele betalings afgeskaf as die “regte ding om te doen” te midde van die ekonomiese probleme wat die Covid-19-pandemie en -inperkings meegebring het.

Die M-Pesa-koste is weer in Januarie vanjaar ingestel.

M-Pesa verwerk nou nagenoeg R366,4 miljoen se transaksies per maand, ’n styging van 63,5% jaar op jaar.

Altesame 57,7 miljoen kliënte doen finansiële dienste deur Vodacom se platforms.

Safaricom

Vodacom se belegging in Safaricom, Kenia se grootste selfoonmaatskappy, verteenwoordig nou byna 13% van sy bedryfswins.

Netwerk

Vodacom het die afgelope jaar R13,3 miljard in sy netwerk belê – die meeste daarvan, R10,1 miljard, in Suid-Afrika.

    Meer oor:  Vodacom  |  Selfoondienste  |  Slimfone  |  Diensverskaffers  |  Tegnologie  |  Resultate
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.