Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tegnuus
Vodacom se wins daal, al kry hy miljoene kliënte by

Vodacom het sy voorsprong as Suid-Afrika se grootste selfoondiensverskaffer oor die laaste jaar verder vergroot.

Die diensverskaffer het Maandag sy jongste resultate vir die jaar tot einde Maart uitgereik.

Daarvolgens het Vodacom nou meer as 43,1 miljoen kliënte in Suid-Afrika, teenoor 41,6 miljoen ’n jaar gelede.

Dit kom neer op ’n groeikoers van bykans 4%.

Die aantal kliënte van MTN, sy naaste mededinger, het in die ooreenstemmende tydperk met net 0,7% gegroei tot 30 miljoen. Trouens, MTN is besig om veral vooruitbetaalde kliënte teen ’n snelle pas in Suid-Afrika te verloor.

Wêreldwyd neem MTN wel steeds die voortou en bedien hy meer as dubbel soveel kliënte as Vodacom.

MTN se aantal intekenare wêreldwyd het in die jaar tot einde Maart met meer as 7% tot 237 miljoen toegeneem. Vodacom het in die ooreenstemmende tydperk sy internasionale intekenare met 5,8% tot 110 miljoen laat groei.

vodacom, mtn

R2 miljard per maand uit data

Vodacom se bedryfsinkomste in Suid-Afrika het die afgelope jaar tot R55,7 miljard gestyg. Dit is meer as R1 miljard meer as ’n jaar gelede.

Die maatskappy het wel oorgeskakel na ’n nuwe rekenkundige standaard (IFRS 15) wat beteken twee afsonderlike syfers word in sy jaarstate weergegee (R55,7 miljard teenoor R51,5 miljard).

Gegrond op ’n bedryfsinkomste van R55,7 miljard en ’n kliëntebasis van 43,1 miljoen, beteken dit Vodacom het oor die laaste jaar ’n gemiddeld van R1 292 per kliënt in Suid-Afrika verdien. Dit kom neer op sowat R108 per kliënt per maand.

Vodacom het meer as 43 miljoen kliënte in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Byna 44% van sy bedryfsinkomste is van data afkomstig. Vodacom het R24,3 miljard net uit data verdien oor die laaste jaar, ’n styging van 3,9%. Dit kom neer op meer as R2 miljard per maand.

Dié styging is ten spyte van ’n oorhoofse daling in die prys van data per megagreep van meer as 23%.

Die diensverskaffer het ook sy prys van buitebondeldata met minstens 50% gesny, hoofsaaklik as deel van sy voldoening aan nuwe regulasies rakende die hantering van data soos vereis deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid.

Die netwerk het 866 miljoen databondels in die tydperk onder oorsig van die hand gesit, 13,1% meer as ’n jaar gelede.

Terselfdertyd het Vodacom se uitgawes in Suid-Afrika met 4,5% gestyg tot bykans R44 miljard.

Bedryfswins plaaslik is laer op R18,9 miljard teenoor byna R21 miljard ’n jaar gelede.

Vodacom het R24,3 miljard net uit data verdien oor die laaste jaar, ’n styging van 3,9%. Dit kom neer op meer as R2 miljard per maand.

As ’n geheel kon die Vodacom-groep wel daarin slaag om sy bedryfswins met ’n skamele 1,1% tot R24,5 miljard op te stoot. Totale inkomste vir die groep beloop meer as R90 miljard.

Vodacom het R9,6 miljard oor die laaste jaar bestee om sy netwerkinfrastruktuur in Suid-Afrika te verbeter. Hy het ook R2 miljard bestee om sy IT-stelsels op te knap.

Shameel Joosub, uitvoerende hoof, doen opnuut ’n beroep op die regering om dringend bykomende spektrum aan diensverskaffers beskikbaar te stel, veral met die oog op die uitbreiding na blitsvinnige 5G-netwerke later vanjaar.

Volgens Joosub vertoon Vodacom steeds betreklik goed in Suid-Afrika, ten spyte van die swak ekonomiese toestande en verbruikers wat al hoe meer spaarsamig leef.

Verdienste per aandeel beloop R8,67. Die finale dividend is R4. Dit bring die voljaardividend op R7,95 te staan.

Vodacom se aandeelprys het Maandagoggend met meer as 4% tot R115,92 gestyg.

Meer oor:  Vodacom  |  Netwerk  |  Diensverskaffer  |  Resultate  |  Selfoonnetwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.